Gee vir die keiser sy deel, gee vir God alles
top of page

Gee vir die keiser sy deel, gee vir God alles


“Moet ons belasting betaal?” So vra die Fariseërs en hulle vriende vir Jesus in Jerusalem. Markus 12:13-17 vertel vir ons dat hulle vraag eintlik bedoel is as ‘n uitvang-vraag. Sê Jesus ja, dan beskou hulle Hom dalk as ‘n “sell-out” wat aan die kant van die gehate Romeine staan. Sê Hy nee, dan dink die mense dalk weer Hy is ‘n terroris wat opstand teen die Romeine bepleit. Jesus trap egter nie in hierdie slagyster wat hulle vir Hom stel nie. Dadelik vra Hy vir iemand ‘n muntstuk. “Wie se kop is hierop?” wil Hy weet. “Die keiser s’n,” antwoord die mense. “Gee vir hom sy beeld terug,” antwoord Jesus. Maar op meesterlike wyse voeg Hy dan by: “Gee ook vir God wat God S’n is.” Wat bedoel Jesus hier? Wel, die keiser se afdruk is op geld. Presies dit is waarop hyself dan nou geregtig is volgens Jesus - geld, met ander woorde! Gee dit vir hom as hy dit vra. Maar ons as mense is na God se beeld gemaak. God wil sy beeld vir Homself terughê. Gee dit vir Hom. Dus, gee vir die keiser sy beeld (‘geld’), maar gee vir God sy beeld (‘jouself’).


bottom of page