Volg jy My
top of page

Volg jy My


Volg JY My.

Hierdie opdrag lyk nie vir almal van ons eenders nie – ek en Brink kon in Chania (Kreta) op pienk stoeltjies sit en stiltetyd hou met ‘n Bybel op die skoot, ‘n ander kind van God moet dalk in ‘n tronksel sit en stiltetyd hou met gememoriseerde Bybelgedeeltes.

Wanneer ek teleurstelling in my huwelik ervaar, beteken dit om te onthou dat ons huwelik nie in die eerste instansie om ons eie geluk gaan nie, maar oor die wil van God, oor sy eer. Die wêreld het egter ons eiebelang aangewakker met ‘n prentjie van God wat soos Kersvader by ‘n kinderpartytjie vir ons elkeen ‘n pakkie happiness sprinkles gaan gee. En dan is ons uiters teleurgestel wanneer Hy vir ons ‘n gesonde dis van “groentetjies” aanbied omdat Hy besorg is oor ons geestelike groei en gesondheid. Vanuit hierdie perspektief kan ek dan met Jesus se onvoorwaardelike liefde geleenthede soek om my huweliksmaat met liefde te eer – en die resultate aan God oor te laat.

Wanneer ek ‘n dag saam met Jesus instap, moet ek nie verbaas wees as Hy my konfronteer met ‘n geleentheid om ‘n hand van vriendskap uit te strek na bure wat dinge vir ons moeilik maak deur nie ons grensdraad te respekteer nie. Met ‘n bietjie kopkrap én let op wat die Bybel leer, nl. dat ons moet strewe na harmonie en dit wat ons onderlinge geestelike opbou sal bevorder (Romeine 14) kan ek dan vriendelik gaan verduidelik dat hier ‘n misverstand was en saam-saam na ‘n oplossing soek.

Dit mag gebeur dat Hy my dag onderbreek met ‘n oproep van ‘n gemeentelid: “Ons het ‘n ongeluk om die draai van jou huis gehad.” My liefdevolle ondersteuning en diensbare hart is dan ‘n geleentheid vir haar ongelowige passasier om iets van Jesus se liefde te sien.

Dan onthou ek skielik dat ek vroegoggend tydens my stiltetyd in die Life Application Bible gelees het: Think of one person who needs to hear the Good News, and think of something you can do to help him/her hear it. Then take that step as soon as possible. Dit mag impliseer dat ek soos Bill Hybels dit gestel het, letterlik of figuurlik “Just walk across the room.” Of dalk “down the street.”

Die belangrikste is dat ek Hom sal volg, beskikbaar en bereid om nie net my hande en voete nie, maar my hele self en al my gawes en talente tot sy beskikking te stel om uit te reik na ‘n gebroke wêreld.

C.S. Lewis het dit so mooi raakgevat: “What we must do is to stop regarding unpleasant or unexpected things as interruptions of real life. The truth is that interruptions are real life, the real life God sends us day by day. What we call our real life is but a phantom of our imagination.”


bottom of page