Xenofobie: Waar is die kerk?
top of page

Xenofobie: Waar is die kerk?


Die laaste paar dae (en voor dit in beide 2008 en 2015) loop media-platforms oor van videogrepe en nuus oor die vlaag van xenofobie wat die land op horings neem. Dit maak my bang.

As ek aan die hooffunksies van ’n funksionele staat dink, is een die beskerming en versekering van die veiligheid van alle mense in die land. Veiligheid is ook ’n konstitusionele reg.

ʼn Christen kan moontlik redeneer dat die Grondwet nie teen ʼn Bybelse agtergrond toepassing vind nie – menseregte is tog iets wat mense uitgedink het. Maar die Bybel het wel toepassing en die Bybelse opdragte in hierdie verband is baie, baie duidelik. Behalwe vir die liefdesgebod, staan daar in Eksodus 23:9: “Jy mag ʼn vreemdeling nie laat verdruk nie.” Lees maar ook Levitikus 19:33 en talle soortgelyke gedeeltes.

Om terug te kom na Eksodus 23. Lees mooi. Daar staan nie: “Jy mag ʼn vreemdeling nie verdruk nie.” Daar staan: “Jy mag ʼn vreemdeling nie laat verdruk nie.” Dit verander die speelveld aansienlik, sou ek sê. Dit is een ding om met oop monde en geskokte gesigte langs die bloedige speelveld en agter skanse te staan en handegevou te sê: “In my vroomheid verdruk ek nie vreemdelinge nie.” Dit is ʼn heel ander “ball game” om die veld te betree en daadwerklik te verhoed dat vreemdelinge verdruk word.

Uit die aard van die saak is hierdie situasie bloot te groot en te ernstig vir individuele Christene. Ek kan moontlik ʼn verskil maak in die gewone loop van omstandighede, maar kan kwalik op my eie in die middestad van Johannesburg infoeter en begin aksie neem. Die Suid-Afrikaanse kerkstruktuur is die ideale liggaam om ʼn platform te skep waar individue op ʼn groot skaal kan betrokke raak en kennis, ervaring en kundigheid kan aanwend om die spanning op ʼn konstruktiewe wyse te ontlont.

Die kerk se stiltes skreeu hard. Waar staan hulle in hierdie hele bedenklike noodsituasie? Ek weet nie want ek hoor nie eintlik iets nie. As die kerk as ʼn verenigde liggaam opgestaan en met luide stem aksie geneem het, sou dit tog deur die hele Suid-Afrika weergalm het, of hoe? Die kerk se stilswye het baie gevolge, maar drie staan uit: geweld en anargie word versterk want daar is geen remmende optrede uit die regte oorde nie en die stilte en dadeloosheid gee ongelowiges maar net groter rede om die kerk vir net mooi alles te verwyt. Maar dalk nog belangriker: gewone Christene weet nie regtig wat van hulle verwag word nie.

(Moenie my verkeerd verstaan nie; ek weet daar is wel hier en daar groepe wat vreesloos tot die stryd toegetree het en ʼn reuseverskil maak, maar waar is die kerk in sy globaliteit, vra ek weer?)

Byvoorbeeld: Die Sinode van die NG Kerk het ʼn veldtog geloods waar mense kan deelneem aan gesprekke oor die toekoms van die NG Kerk. Hulle skryf onlangs op hul Facebook-blad: “Ons vra hierdie week oor die kerk in die samelewing: wat dink julle oor die roeping van die kerk in die gemeenskap?” Maar nêrens sien ek ʼn inskrywing oor die huidige xenofobiese geweld nie...

Gift of the Givers se Facebook-blad, daarenteen, publiseer foto’s met die byskrif: “Gift of the Givers assisting xenophobia victims at St Helena Bay. We served a meal and provided blankets and water.” En ʼn dag of wat vantevore: “Women of Garies, supported by some men, hard at work, making items, sales of which pay for fodder. The drought has taken a huge toll on multiple communities.” Ons almal weet hulle is ʼn Moslem-hulpverleningsorganisasie. Need I say more?

Suid-Afrika is verseker nog lank nie verby die punt waar dinge nog ten goede kan verander nie, maar is ons nie reeds verby die punt waar woorde genoeg is nie? Is ons nie verby die punt waar kommissies deur aksiegroepe vervang moet word nie? Of waar dit net nie meer genoeg is om jou in formele verklarings uit te spreek teen afgryslikhede nie?

Jerry Pillay, verbonde aan die Departement van Teologie, UP, se artikel genaamd “Racism and xenophobia: The role of the Church in South Africa” gee praktiese raad. Dit is werklik die moeite werd om te lees én toe te pas.

Xenofobie is maar een voorbeeld. Nog een van baie: Wat van die massiewe vlaag van moorde op en bloedige geweld teen vroue? Besef die kerk dat vroue bang, weerloos en uiters onveilig voel. Ek kan enige oomblik verkrag, vermoor of aangerand word bloot op grond van die feit dat ek ʼn vrou is. Wat moet ek maak met hierdie gevoelens? Hoe kan ek myself beveilig?

Ek hoop iemand daar buite hoor wat ek sê...


bottom of page