Leier Nuusbrief September 2019
top of page

Leier Nuusbrief September 2019


Werk elke dag

A small daily task, If it is really daily, will beat the labours of a spasmodic Hercules (Anthony Trollope).

Om gereeld elke dag aan ‘n projek of doelwit te werk, het baie voordele. Hier is ‘n paar:

1. Dit maak dit makliker om te begin

Om iets te begin is altyd ‘n uitdaging. Dit is moeilik om ‘n projek aanvanklik, maar ook na ‘n onderbreking, weer te begin. Deur elke dag te werk bou jy momentum op. Nou word dit makliker om voort te gaan waar jy opgehou het.

2. Jy hou die idees vars

Dit is maklik om verbande tussen die idees te sien as jou gedagtes gedurig by die taak is. Werk jy net sporadies is dit moeilik om te fokus, want jou aandag word maklik afgelei.

3. Dit verlig die druk

Elkeen van ons het goeie en slegte dae. As jy elke dag werk en jy ondervind ‘n slegte dag is daar minder druk want jy weet, omdat jy gereeld werk, jy die werk sal inhaal. Omdat jy meer ontspanne is, is jy meer geneig om te eksperimenteer en selfs risiko’s te loop.

4. Verhoogde kreatiwiteit

Kreatiwiteit is die gevolg van die voortdurende oorweging van idees. As jy gereeld werk is jou gedagtes gedurig by jou projek..

5. As jy gereeld werk kweek dit ‘n gewoonte.

As jou gewoonte is om gereeld te werk, is dit makliker om alles gedoen te kry. Jy begin ook elke dag makliker met jou take.

6. Verhoogde produktiwiteit

Vandag se werk moet verseker dat more se werk glad verloop. Niks is meer bevredigend om te sien dat jy nader aan jou doelwit beweeg nie – al is dit stadig. Stap vir stap beweeg jy vorentoe. As jy niks gedoen kry nie, lei dit tot paniek en wanhoop.

7. ‘n Realistiese benadering.

As jy nie tyd het om aan jou projek te werk nie, voel jy gefrustreerd. As jy elke dag werk aan jou projek, maak jy elke dag tyd daarvoor. So kry jy oor maande baie gedoen.

Ek sluit af met ‘n paar aanhalings van Gretcen Rubin, skrywer van Happier at Home en The Happiness Project:

It’s the task that never started that’s more tiresome.

What I do every day, matters more than what I do once in a while.

Kom in die gewoonte om elke dag tyd te maak om aan jou doelwitte te werk. Daar is baie voordele aan hierdie benadering.

Jou daaglikse roetine

As jy werklik iets wat die moeite werd is in jou lewe wil bereik, moet jy ‘n duidelike streep trek tussen die wêreldse eise en jou eie ambisie. Niemand hou daarvan dat mense vir jou reaksie wag nie (byvoorbeeld jou antwoord op hulle e-posse). Daarom wil ons graag al die inkomende e-posse en oproepe afhandel voor ons met ons dag se werk begin. So spandeer jy die beste deel van jou dag op ander mense se prioriteite. Teen die tyd dat jy eendag by jou eie werk kom, begin jou energievlakke al afneem.

Die belangrikste verandering wat jy moet maak, is om jou kreatiewe werk eerste te doen en jou reaktiewe werk eers later te doen. Dit gaan natuurlik teen die grein van ander mense se verwagtings in. Dit is beter om ‘n paar mense teleur te stel as om jou droom te verruil vir ‘n leë te doen lysie.

Wat vereis word is ‘n vaste daaglikse roetine. Dit is iets waaraan jy moet bou. Hier is ‘n paar boustene wat jy kan gebruik:

1. Bepaal die ritme van jou energievlakke

Sekere tye van die dag is goed vir gefokusde kreatiwiteit. Gee hierdie tyd vir jou belangrikste kreatiewe werk. Probeer alle administratiewe take en vergaderings in hierdie tyd vermy.

2. Gebruik kreatiewe snellers

Bly by dieselfde omgewing en tyd en gebruik dieselfde instrumente. Daar is ‘n tyd om jou kreatiewe sone te betree.

3. Hanteer jou te-doen lys.

Beperk hierdie lys, want hy het die neiging om gelydelik te vergroot. As jy gedurig net nuwe take byvoeg sal jy nooit op datum kom nie. Meeste take kan in ieder geval wag tot die volgende dag.

4. Vang elke onderneming/belofte vas

Jy mag hulle nie vergeet nie. As jy hulle onthou en op hulle fokus, sal jy meer doeltreffend op versoeke reageer.

5. Vestig vaste grense in jou dag

Stel die begin- en eindtyd vas. Daar moet elke dag toegewyde tye vir toegewyde take wees. Take mag nie langer duur as wat nodig is nie. Hulle mag nie op ander belangrike take inbreuk maak nie.

‘n Doeltreffende daaglikse roetine is altyd persoonlik. Eksperimenteer met hierdie boublokke tot jy die roetine kry wat jou die beste pas.

Swak luistergewoontes

Luister is een van ‘n leier se belangrikste vaardighede Leiers wat goed luister, lei goed. Maar selfs goeie leiers sal soms swak luistergewoontes gebruik. Hier is ‘n lys van ons swakste luistergewoontes:

  1. Dagdrome: ons dink aan ander dinge terwyl ‘n persoon praat;

  2. Debat: ons het ‘n innerlike debat oor wat gesê word;

  3. Oordeel: ons laat toe dat negatiewe sienings ons beïnvloed;

  4. Probleemoplossing: ons wil graag ongevraagde advies gee;

  5. Pseudo-luister: ons gee voor dat ons ‘n goeie luisteraar is;

  6. Oefen: beplan wat jy volgende wil sê;

  7. Lokval: maak inligting bymekaar wat jy teen die ander person wil gebruik;

  8. Selektiewe luister: reageer net op daardie dele van die gesprek wat jou interesseer; en

  9. Vermydende luister: jy ignoreer alles wat jy nie wil hoor nie.

As jy in jou gedagtes een of meer van hierdie gewoontes afgemerk het, is hier ‘n paar leidrade om te gebruik:

  1. Vra ‘n goeie vriend om vir jou terugvoer te gee oor hoe goed jy luister;

  2. As jy na iemand luister, moniteer jou gedagtes om jouself te keer voordat in jy een van hierdie gewoontes verval;

  3. Praat minder. Vra jouself elke keer: “hoekom praat ek?”


bottom of page