Dit gaan nie oor jou nie
top of page

Dit gaan nie oor jou nie


Ek onthou nog toe Rick Warren sy boek uitgegee het getiteld The Purpose Driven Life. Die boek het beter verkoop as enige ander boek in die geskiedenis naas die Bybel. Meer as dertig miljoen kopieë het van die rakke af gevlieg teen 2007. Die boek het negentig weke gepryk op die New York Best Seller lys en is in vyf-en tagtig tale vertaal. Voor waar ‘n prestasie!

Ek het ook die boek gelees en ek onthou nog die enkele sinnetjie in die boek wat die grootste impak op my gelaat het. Dit het ‘n blywende merk gelos op my siening van myself en my verhouding met die Here. Hierdie sinnetjie was so basies en eenvoudig en tog bly dit my nou nog by. Trouens, vandag rig hierdie sinnetjie nog my lewe. Op die eerste bladsy van die inleiding van die boek het eenvoudig gestaan:

This book is not about you.

Hoe verfrissend! Hoe raar in ons tyd van selfies, selfliefde, selfbelangrikheid en selfobsessie! Hoe dapper in ‘n tyd waar alle ander self help boeke vir ons wil vertel hoe belangrik ons is en hoe ons elkeen moet sorg dat ons ons sin in die lewe kry! Hoe vars in ‘n wêreld waar allerlei “gurus” ons leer om in die oggende voor die spieël te staan en onsself op te blaas en op te pomp met frases soos Jy is die middelpunt van jou dag. Of uitlatings soos Jy is amazing! Of advertensie taal soos You are worth it!

In so ‘n egoïstiese kultuur soos ons s’n het ons nodig om die nugter woorde van Johannes die Doper te hoor. In Markus 1:7 stel hy homself aan sy eie dissipels voor met die woorde:

Ek is nie eers werd om te buk en Sy (Jesus se) skoene los te maak nie.

Ter wille van ons eie gesondheid en heil het ons broodnodig om die woorde te hoor: This life is not about you! Ons is eenvoudig net nie so belangrik soos wat ons graag sou wou glo nie. Die teoloog Max Lucado stel dit so: in ons sonnestelsel kan ons onsself vergelyk met die maan. Die maan is nie eintlik mooi nie. Hy is vol kraters en gate en lyk maar valerig en lelik. Die maan tel nie eers as ‘n planeet nie. Hy is maar ‘n klein los bolletjie grond wat nie eers sy eie naam het nie. Hy staan bekend as die Aarde se maan. Daar is baie ander mane. Hy is maar een van baie.

Tog kan ons ons soms verwonder aan die maan en vir lank staar daarna wanneer die son se lig op verskillende asemrowende maniere daarop val! Maar dis presies die punt: Die maan is niks sonder die son nie. Die maan kan geen lig van sy eie uitstraal nie. Hy hét geen lig in homself nie. Die maan is nie die middelpunt van die sonnestelsel nie. Die son is. Die maan se rol is nie om lig te verskaf nie maar om die son se lig te weerkaats! Die son is die lewensbron. Hý verskaf die lig, energie en krag. Die maan is die dankbare ontvanger en weerkaatser van daardie lig.

Ons is soos die maan. Ons rol is niks anders as om Jesus se lig en skoonheid te weerkaats nie. Uit onsself is ons niks, regtig níks! Tog staar ons soms in verwondering na mekaar omdat ons Jesus se skoonheid in mekaar waarneem. Die Bybel noem dit God se beeld. Enige en alle skoonheid het ons bekom deur God wat sy beeld in ons geplant het en deur Jesus wat ons elke dag nuut maak. Ons roeping is dus nie om ons eie lawaai te probeer maak, of ons eie lig te probeer skyn nie. Dis eerder om te besef wat ons plek in die kosmos is. Wanneer Jesus-volgelinge voor die spieël staan dan sê ons:

Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie.

This life is not about me.


bottom of page