Statusblind
top of page

Statusblind


Statusbeheptheid is ‘n verskriklike ding. Dit verander mense om elke hoek en draai in snobs. Moenie dink statusbeheptheid kom nie ook in die kerk voor nie. Titels, posisies en rolle word hier dikwels subtiel met kerklike status geassosieer. Sekere gemeentes en hul leiers het ook nog ‘n groter status as ander. Baie mense sluit graag by sulke gemeentes aan eerder as by sukkelende kerke.

God haat statusbeheptheid onder mense. Oor en oor sê Hy in die Bybel dat Hy Hom aan die kant van die nederiges en die geringes skaar. Hoogmoediges verwerp Hy. Magshebbers stamp Hy van hul trone af, maar nederiges tel Hy graag op. Daarom dat Joël 2:29 so ‘n aangrypende mooi teks is. Dit sê dat God selfs slawe en slavinne gaan oorlaai met sy Gees. Bid jou dit aan, die heel laagste mense in die samelewing gaan Gees-deurdrenk raak.

God het nie kerklike witbroodjies nie. Hy hou nie van sekere Christne meer as van ander nie. Nee, die Here het al sy mense ewe veel lief. Hy sien selfs diegene raak by wie ons in die kerk verbystap. Hy stort sy Gees oor die verdruktes en veragtes in die samelewing uit wat voor Christus buig. Open dus ‘n slag jou oë en sien in wie se lewens God se Gees tans aan die werk is.

Gebed

Heer maak my vry van statusbeheptheid. Amen


bottom of page