Kwaadword het 'n petroltenk
top of page

Kwaadword het 'n petroltenk


Strak kyk die tienerseun voor hom uit. Hy wil iets vra, maar die woorde kom nog nie by sy mond uit nie.

“Is dit jou omstandighede om jou, of jou eie lyf wat jou siek maak?” breek hy die stilte. “Ek bedoel nou – dat jy uiteindelik by ʼn psigiater moet uitkom?”

Ons gesels oor die kompleksiteit van genetika, aangeleerde gedrag, denkpatrone, emosies en omstandighede.

“Maar hoe maak jy as jou vriende se omstandighede baie erg is en dit gaan nie weg nie?” vra hy driftiger.

Die gesprek skuif na mense se merkwaardige potensiaal om uitdagings op ʼn gesonde manier te leer hanteer. Maar die strakheid trek weer soos ʼn donkerte oor sy gesig. Ek wag. Maar die stilte hang lank.

“Waaroor is jý kwaad?” waag ek dit en ek sien ʼn liggie aangaan.

“Endgame. En vir almal wat my aangemoedig het om dit te kyk. Dit is pateties en ek sal altyd daaroor kwaad bly.”

“Jy is dus kwaad oor ʼn fliek wat jy gekyk het en dit krap jou lewe om?”

“Ja,” lag hy. (Ek is dankbaar oor die lag.)

Nog sekondes tik verby. Dit kan nie die rede vir al die vrae wees nie.

“Waaroor is jy nóg kwaad?”

Weg is die glimlag.

“Die skoolsisteem. Daar word vreeslik baie druk op die kinders geplaas, van alle kante af.”

“Ek onthou ons het al hieroor gesels… en jy het intussen geleer wat om met daardie druk te doen. Dat jy goed genoeg is en niks hoef te bewys nie? Dat jou toekoms in God se hande is en dat jy daarom vry is om te lewe volgens jou roeping?”

Hy kyk af. “Ja, ek is oukei. Maar daar is ander kinders wat begin swig onder die druk. Hulle weet nie dat die sisteem stukkend is en dat hulle nie so hoef te voel nie.” Ek sien ʼn aartjie teen sy slaap begin bietjie bult. “Hulle is heeltyd angstig en gespanne en bang en hulle beland een vir een by ʼn dokter.”

“Dis mooi dat jy kwaad is daaroor,” antwoord ek. Verbaas kyk hy my aan. Is volwassenes dan nie veronderstel om die sisteem te onderhou nie?

“Die ding van woede, is egter dat dit soos diamante is. Dis juwele. Dit skop energie in jou aan die gang. Wanneer jy kwaad of woedend raak oor iets, wil dit jou iets leer van jouself of wat jy kan doen. Maar kwaadword het ʼn petroltenk. Dit beteken jy moet mooi dink en kies waaroor jy wil kwaadword. Want jy mors nie daarmee nie. Dis vir ons goud werd.”

“So dit help seker nie ek bly kwaad oor Endgame nie?” lig hy die swaarheid van die gesprek.

“Nee, jy mag maar as jy wil, maar ek dink dis ʼn mors van goeie energie. Want wat gaan jy daaraan doen? Oor jou kwaadword oor wat jy met jou vriende sien gebeur – dit is heilige kwaadword. Want jy gee om vir hulle. Die uitdaging is wel om uit te werk wat jy daaraan kan doen en hoe. En wat daarvan is hulle eie taak om uit te werk. Anders gaan daardie kwaadword jou moeg maak. En as jy te lank kwaad bly oor goed waaraan jy niks kan doen nie, of wat nie belangrik is nie, spring dit oor in iets anders.”

“Wat?”

“Apatie. Om nie meer om te gee nie, want jy voel magteloos. En dis nie wat ek graag wil sien gebeur met Christene nie.”

Hy knik tevrede.

Dis eers later wat ek weer Markus 3:4-5 gaan lees: “Jesus het vir die mense gevra: ‘Mag 'n mens op die Sabbatdag goed doen of verkeerd doen? Mag 'n mens iemand se lewe red, of mag 'n mens hom doodmaak?’ Maar die mense het stilgebly. Jesus het na die mense rondom Hom gekyk. Hy was kwaad en ook hartseer omdat hulle hardkoppig was. Hy sê toe vir die man: “Steek jou hand uit!”

Die man het sy hand uitgesteek, en toe was sy hand gesond.


bottom of page