God daag ook op by hoop se begrafnis
top of page

God daag ook op by hoop se begrafnis


“Hoop werk nie vir my nie. Ek is ’n realis.” So hoor ek iemand op die TV sê. Lyk my baie mense stem saam. Wag, ek weet hulle doen. Ek luister hoe mense praat. Ek sien hoe hulle optree. Hoop is ’n minderheidsposisie in baie families en organisasies. Deesdae is hoop selfs onder druk in baie gelowiges se lewe. Hoop is oppad uit. Hoop is op uitverkoping. Regstellende aksie het hoop getref. Dit is nie meer polities korrek om te hoop nie. Die boek Klaagliedere hou selfs ’n begrafnis vir hoop. Hierdie boek is loshande die mees hooplose boek in die Bybel. Al vyf hoofstukke handel oor die haglike situasie van Jerusalem daar rondom die jaar 538 voor Christus. Dit is in die tyd toe baie ballinge teruggekeer het na hulle geliefde stad wat in puin gelê het. Alles in Jerusalem was tot op die grond afgebreek. Daarom hou Klaagliedere begrafnis, hoop s’n.

Maar dan sien die skrywer van Klaagliedere 3 skielik vir God raak. God het toe ook opgedaag by hoop se begrafnis. Hy is daar tussen al die klaendes en hooploses wat geen toekoms meer sien nie. Meteens verander die skrywer se toonaard en inhoud in Klaagliedere 3:21. Hy besef dat as God te midde van wanhoop kan opdaag, dan is hoop nie regtig dood nie. En die mooiste van alles, God daag op as wie Hy nog altyd is - die God van ontferming en goedheid. Wat ’n ontdekking vir die skrywer, en hopelik(!) ook vir jou en my! Die Here is wie Hy nog altyd is. Hy is goed vir elkeen wat bly glo, ook in ’n tyd van wanhoop. Die Here is nie weg as almal se hoop weg is nie; of anders as almal bitter en hooploos is nie. Sy trou is steeds elke oggend nuut.

Hoop is ’n minderheidsposisie. Dit is 'n “ek” in Klaagliedere 3 wat die Here te midde van wanhoop raaksien. Die res (“ons”) is blind vir God, en afgestomp vir hoop. Bitterheid, woede en wanhoop is die meerderheid se begrafnis-musiek. Maar vir elke indiwidu wat saam met Klaagliedere 3 vir God raaksien in geloof, is Sy trou elke oggend nuut. God is regtig goed vir elkeen wat op Hom hoop. Sluit asseblief aan by die enkeling van Klaagliedere 3. Weet saam met hom: hoop is nie dood nie. God is hier. Sy trou is elke oggend nuut.


bottom of page