Wat kan ek in 2019 verloor?
top of page

Wat kan ek in 2019 verloor?


Ek kan my eiendom verloor, my lieflike, ruim huis en tuin. ʼn Warm stort en elektriese heining. Moontlik my werk en my voertuie. Daar bestaan ʼn beduidende kans dat ek my mediese fonds maar kan groet en ek wonder hoeveel van my swaarverdiende geld word aangewend vir korrupsie. Wat van die voorreg om my hare en naels en gesig en voete te laat “doen”? Ek kan my ciabatta-brood verloor (en waarmee gaan ek dan onder die arm kla?). Moerkoffie, olywe en fetakaas, braaivleis, vars groente en vrugte, Pick ’n Pay se lemon meringue flavoured double cream yoghurt, sjokolade, wyn en ʼn magdom ander lekkernye wat my mond laat water, dinge wat ek as vanselfsprekend aanvaar.

Wat kan ek in 2019 verloor?

My besittings, my sekuriteit (wat ek in besittings stel) en selfs my lewe.

In die haarkapper, die naelsalon, om braaivleisvure en die etenstafel, in wagkamers, onder die bome waar ons in die middae vir ons kinders wag en langs die sportvelde. Suid-Afrikaners gons soos bye oor die biljoene wat vermors word, die korrupsie en die misdaadsyfers, grondonteiening sonder vergoeding en die opdoeming van die regering se plan vir Nasionale Gesondheidsversekering. Die EFF maak ons bang en ons is besig om vertroue in president Cyril Ramaphosa te verloor. Die prentjie lyk bleek. Bléék, sê ek vir jou!

Ons. Kan. Oor. Niks. Anders. Praat. Nie.

Mis ons almal nie die belangrikste vraag nie? Het ons opgehou om oor die essensie, oor die kern van ons wêreld te gons? Het ons verval in wantroue, hopeloosheid, ongeloof en vrees?

Om terug te kom by die vraag waarop ons eerder moet fokus:

Wat kan ons nié in 2019 verloor nié?

En ʼn lewensveranderende, selfs lewensreddende vraag wat die grondslag van die vorige vorm:

“Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?” (Romeine 8:35)

Anders as die eerste vraag oor wat ons moontlik in 2019 kán verloor, het hierdie vraag inderdaad ʼn antwoord:

“Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Paulus is deur hel op aarde. En steeds het hy die geloof, deursettingsvermoë (en verstand) gehad om te bly fokus op die essensie, op die Godsbestel.

Wat sal gebeur as Christene in 2019 in die voetspore van Paulus volg?


bottom of page