Die engele tussen ons
top of page

Die engele tussen ons


In die pragtige Psalm 91 lees ons dat God Sy engele opdrag sal gee om ons te beskerm. In Daniël 4 lees ons van die engel wat saam met Daniel se vriende in die vuuroond was. Daar word in die Bybel telkens van engele melding gemaak. Vandag het ek egter menslike, vlees-en-bloed engele op die hart.

Sulke mense-engele het al baiekeer my pad gekruis en dikwels was ek dalk nie eers bewus daarvan nie. Baie jare gelede het my motor sonder petrol gaan staan op die N1 snelweg tussen Johannesburg en Pretoria. Ek het nie 'n selfoon gehad nie en benoud gedink aan my drie klein kindertjies wat ek by die skool moes gaan oplaai. 'n Bakkie met twee engele in oorpakke het gestop en die manne het my getou tot by die naaste garage. Seker gemaak dat ek geld het vir petrol en toe gewag totdat hulle gesien het ek is geholpe.

Verlede week, vroeg op n besondere koue oggend, wou ons motorhek nie oop nie. My man was nie by die huis nie en ek het op my knieë gestaan en sukkel by die hek. 'n Engel op n motorfiets het my uit my penarie kom help. Met die grootste geduld het hy seker gemaak alles werk mooi, voordat hy weggery het. Ons vra daagliks die Here om ons te help en soms stuur Hy mense om Sy hande en voete te wees.

Ek is seker baie van julle het al sulke ondervindinge gehad, waar onbekende en ook bekende mens engele jou gehelp het. Die vraag is: Is ek en jy ook engele? Help jy ander, al is jy self haastig of besig? In ons haastige samelewing waar almal in die vinnige baan leef, is daar nie tyd om van die pad af te trek om mense te help nie. Ons fokus so op onsself, dat ons ander nie raaksien nie, totdat ons self eendag hulp benodig.

In Matteus 5 lees ons: “Gelukkig is die wat met deernis uitreik na mense in nood, want God sal aan hulle deernis bewys.” As ek en jy se dat ons n persoonlike verhouding met Jesus het, moet ons Sy hande en voete hier op aarde wees, Sy mens-engele. Hoe kry jy opleiding? Deur te luister na daardie stemmetjie wat jou aanmoedig om iets te doen. Hoe meer jy doen, hoe lekkerder raak dit vir jou! Vra die Here om jou te gebruik. Soms wil Hy jou beursie, jou geduld, jou vriendelikheid en belangstelling of jou besondere vaardigheid gebruik. Soms is daar selfs 'n geleentheid om oor die Here te praat, of andersins wys jou dade dat Jesus in jou leef.

Vra sommer vandag nog die Here om jou te gebruik, in jou werksplek, by die huis of waar jy jouself ookal bevind. Vra die Heilige Gees om jou fyn in te stel op ander se behoeftes.


bottom of page