top of page
  • deur Stephan Joubert

Sweet jou brein reg?


“Sweet mens se brein as jy hard dink?” vra iemand nou die dag op Twitter. Goeie vraag. Vreemde vraag ook, daardie soort wat jou verbeelding naderwink. In elk geval, ons denke is een van die sleutels tot ons menswees. Al daardie gevoelens en gedagtes wat ons in ons kop huisvesting gee, bepaal waarop ons fokus, en waarop nie. Daarom dat Paulus ons in Efesiërs 4 oproep om nie met pap koppe opgeskeep te sit nie. Ons denke kan ons gou-gou laat vasval in nuttelose of verslawende denkpatrone. Geen wonder nie dat Paulus ook in 2 Korintiërs 10 vir ons sê om al ons gedagtes gevange te neem. Daardie gedagtepatrone wat destruktiewe gedrag in stand hou moet ontmasker word. Dit moet alle toegang tot ons koppe geweier word. Ons is regtig nie uitgelewer aan ons koppe se denkprosesse nie. Ons moet gedurig daarop ingryp. So nie, forseer ons eie denke ons kort voor lank in verkeerde rigtings.

Ons kop is ons kompas. Dit bepaal ons lewe se gerigtheid. As ons ingestel is om die Here se goedheid orals raak te sien, dan sal ons lewe verskuif vanaf alles wat verkeerd is na dit wat reg is. As dit ons ingesteldheid is om reg en geregtigheid te laat geskied in die Heer se Naam, dan sal ons onreg raaksien en iets hieraan doen, soos wat die Woord van ons vra. Dan sal ons in die bres tree vir mense wat benadeel word, en wat nie vir hulleself kan opstaan nie. Ons moet kies om die Here se goedheid ons fokus te maak. Dan sal sy vrede en sy blydskap ons harte en ons gedagtes oorspoel. In Paulus se taal in Filippense 4 sal die vrede van die Here dan oor ons harte en ons gedagtes wag hou. Kom ons skuif ons koppe. Kom ons sweet om reg te dink; dan sal ons ook reg leef.


bottom of page