Almal gaan die Gees voel
top of page

Almal gaan die Gees voel


Joël was profeet in ‘n tyd van groot droogte en swaarkry. Om alles te kroon, het ‘n sprinkaanplaag hulle getref en al die kos van die mense opgevreet. Wat ‘n ramp. Almal het gewonder waar is God. Dis toe dat Joël begin praat het.

Tussen Joël se preke deur het hy ook een nuwe boodskap aan God se volk oorgedra, ‘n asemrowende boodskap dat God sy Gees binnekort op al sy mense gaan uitstort. Daar kom ‘n hemelse vloed. Die sluise van die hemel gaan breek en ‘n golf van hemelse Gees-water gaan al God se mense tref. Hulle gaan een en elk meegesleur word deur God se nuwe werke. Nee, hierdie keer gaan dit nie net ‘n paar konings en profete wees wat deel in die Gees nie; almal gaan nou deel in God se oorvloed-fees.

Joël het by God gehoor dat die Gees soos water uitgestort sou word Daar sou binnekort te veel van Hom oor die mense wees, want dis mos presies wat gebeur met ‘n stortvloed water. Dan kan ons skielik nie alles opgebruik of berg nie. Dan oorstroom riviere se walle en damwalle se mure. Dan is lewe in oorvloed buite menslike beheer beskikbaar, te veel vir almal om op te gebruik. Terloops, ken jy ook hierdie hemelse oorvloed?

Gebed

Heer, trek die hemelse sluise oop. Laat Gees-waters oor ons stroom. Amen


bottom of page