Ek’s in julle
top of page

Ek’s in julle


Die Gees is oppad. Hy gaan in al sy mense kom bly. Dis wat Hyself hier in die laagte in Esegiël 37 vir sy profeeet waarborg. ‘n Nuwe dag is oppad. Grafte sal binnekort oopgaan. Dooies sal begin leef. Dan sal almal sien dat die Here leef. Sy mense wat in hooploosheid vasgevang is, sal op daardie nuwe dag weer hulle koppe optel en al hulle hooplose praatjies laat staan. Hulle sal moed skep en nuut begin leef. Want God is besig met nuwe planne om sy almag deur sy Gees aan diegene in ballingskap te openbaar.

Jy en ek leef gelukkig aan die ontvangkant van hierdie belofte van God aan sy volk. Ons staan immers aan die anderkant van Pinkster. Ons het die Wind reeds voel waai van daardie Pinksteroggend af waarvan Handelinge 2 vertel. Ons het die hemelse Vuur se hitte ook reeds beleef. Dit brand nou nog, want die Gees het gekom! God het ware woorde met Esegiël gepraat. Die grafte het toe oopgegaan, joune en myne ook. Ons leef. Jesus se dood het ook ons lewe geword; sy kruis ons opstanding, sy hemelvaart ons nuwe burgerskap daar in die hemelstad by God! Nou kan niks ons ooit meer van God se liefde skei nie. Nou kan ons jubel en juig en bokspring van vreugde. Die Gees is hier! Ook in ons!

Gebed

Dankie Here dat U my graf oopgebreek het. Dankie dat ek leef, Here Jesus! Amen


bottom of page