Leier Nuusbrief — Julie 2019
top of page

Leier Nuusbrief — Julie 2019


Maak ‘n bydrae

As jy sukses definieer as ‘n beroep wat vir jou baie geld en mag bring, mag jou beroep dalk nie suksesvol wees nie. Daar is twee sleutels vir ‘n suksesvolle beroep:

  • Jy maak ‘n beduidende bydrae, en

  • Ander is lojaal aan jou en vertrou jou.

‘n Suksesvolle beroep gaan oor die maak van ‘n bydrae – oor die oplossing van ‘n belangrike problem. As die Franse praat van hulle lewenstaak praat hulle van métier. Dit het oorspronklik bediening of diens beteken. Dit beteken dat jy van jouself gee, dat jy omsien na die behoeftes van ander en dat jy tevredenheid ondervind omdat jy ‘n betekenisvolle diens gelewer het. Dit kom dus nie van buite jouself nie, maar van binne – vanuit jou eie mengsel van vaardighede en passie. ‘n Suksesvolle beroep berus dus op beide die begeerte en vaardigheid om ‘n bydrae te maak en ‘n karakter wat die lojaliteit en vertroue van ander werd is. Ons leef in ‘n wêreld wat vinnig verander. Ons leef in ‘n wêreld wat deurmekaar is en vol onsekerhede. Werksekerheid is vinnig besig om te verdwyn. Daar is ook ‘n positiewe kant aan hierdie nuwe wêreld van ons. Daar is geleenthede vir almal. Jy moet net een van die nuwe belangrike probleme oplos. Daar is geen tekort aan probleme nie, maar wel ‘n tekort aan oplossings. Die Engelse word career is afkomstig van die Franse woord carrier. Die oorspronklike betekenis van carriere was om al in die rondte in sirkels te gaan. Dit kan ook ‘n steengroef beteken. Dit is hoe baie van ons ons beroepe ondervind: ons gaan al in die rondte in sirkels en bereik niks nie of ons voel soos ‘n gevangene in ‘n steengroef wat van vanoggend tot vanaand klippe moet kap. Die sogenaamde kennis-tydperk daag ou aannames uit. Ons moet weer nuut na al ons langstaande probleme – armoede, misverstande, pyn, vrees, onkunde, ens – kyk en met unieke oplossings na vore kom. Hoekom is so baie mense ongelukkig in hulle beroepe? Dit gaan basies oor hulle fundamentele siening van hulleself. Jou waarde as mens lê nie buite jouself nie. Baie mense baseer hulle waarde as mense op dinge buite hulleself en vergelyk hulle met ander mense. Geld is nie so belangrik as wat ons dink nie – mense verwag ‘n salaris en daarom is dit nie ‘n insentief nie. In die Industriële tydperk het mense gevra: Wat is my taakomskrywing? Vandag, volgens Peter Drucker moet mense vra: Wat moet my bydrae wees? In die verlede het mense gedoen wat hulle aangesê is om te doen. Om vandag passief te doen wat jy aangesê word om te doen, sal jou gou irrelevant maak. Vandag moet jy jou sterkpunte gebruik om betekenisvolle probleme en uitdagings op te los. Jy moet jou eie unieke bydrae maak. Dit beteken dat jy jou sterkpunte ten opsigte van vaardighede, passie en gewete moet identifiseer. Dit sê vir jou wie jy is. Om jou beroep te geniet is net so belangrik as om jou talente te gebruik. Jou passie is wat jou vervul. Dit is die vuur wat van binne jouself kom. Hoekom moet jy na jou gewete luister terwyl jy jou beroep bou? Jou gewete, jou morele kompas, sal vir jou fluister watter bydrae jy moet maak. Dit vertel vir jou wat jou verantwoordelikheid is.

Charles Dickens

Charles Dickens, ‘n jong skrywer, was mismoedig. Hy het ‘n vrou en vier kinders gehad om te onderhou. Sy vrou was weer swanger. En hy het geen inkomste gehad nie. Hy het aan homself begin twyfel. Die finansiële druk was besig om toe te neem; hy kon nie skryf nie. Snags lê hy wakker. Hy begin om snags die strate van London plat te loop. Hy praat met die sukkelende straatmense en sien self die probleem van kinderarbeid, armoede en hopeloosheid. Wat hy waargeneem het laat sy passie om die armes te help opvlam. Hy begin verder as sy eie probleme sien. Hoe kon hy ‘n verskil maak? Wat het hy in homself gehad om die wêreld ‘n beter plek te maak? Op 14 Oktober 1843 gaan sit Dickens en begin met ywer te skryf. Hy kombineer sy nuutgevonde passie met sy kundigheid as skrywer en skryf ‘n klein boekie wat hy gehoop het die wêreld sou verander. Ses weke later verskyn A Christmas Carol. Dit was onmiddellik ‘n topverkoper en verander die openbare mening. Baie waarnemers sien dit as die begin van die Britse sosiale hervormingsbeweging.. Vir Dickens was dit die begin van ‘n voorspoedige skrywersloopbaan. Sy boeke maak hom ryk en hy raak betrokke by die opvoeding en herintegrasie van armes in die samelewing. Wat het Dickens herlaai en sy groot loopbaaan herfokus? Hy ontdek die unieke kombinasie van natuurlike talent, passie vir ‘n saak en die roepstem van sy gewete om ‘n groot nood in die wêreld te vul. Wat vir Dickens waar was, geld nog steeds. Jy moet ‘n werk kry wat:

  1. Jou talent tap;

  2. Jou passie laat ontvlam; en

  3. Jou gewete stil.

Maar dit gaan nie net oor jouself nie. Jou werk moet ook ‘n betekenisvolle behoefte aanspreek.

Leiers word ontwikkel

Hoeveel boeke het jy die afgelope jaar oor leierskap gelees? Die doel van die vraag is om vas te stel of ek werklik ‘n leier is en hoeveel kennis ek bymekaar gemaak het om ‘n kundige leier te word. Dikwels sal ons uitvind dat ons baie min nuut geleer het. As ‘n leier moet jy meer oor leierskap, tydbestuur, bestuur, ens lees, sodat jy meer aan ander kan oordra, jou droomspan bymekaar kan maak en jou bestemming kan vervul. Ons kan boeke lees, maar daar is ook aanlynkursusse wat ons kan koop. Natuurlik is boeke nie goedkoop nie, maar dit voeg kundigheid en kennis by jou vaardighede by. Die outeurs het die harde werk gedoen en die leser kry die beste kennis in hierdie boeke. Alles wat jy by jou vaardighede kan voeg is ‘n plus. Die leiers wat ek ken, lees baie. Hulle het ook goeie mentors. Hulle heg waarde aan leer en verstaan die voordeel wat hulle kry as hulle in hulleself belê. Moenie jare mors deur op jou eie te leer nie. ‘n Ware kundige kan jou help deur boeke, seminare en as mentor.

Leiers is nederig

Leaders eat last is ‘n goeie boek vir alle leiers om te lees. Die boodskap is ook vir leiers in die kerk. Druk jou mense na vore en goeie dinge gebeur. Eis al die eer vir jouself op en die wêreld is nie meer ‘n lekker plek nie. Natuurlik is daar baie leiers wat hulle die held in die verhaal maak. Hulle aanvaar die krediet vir elke oorwinning van die span. Hulle sien selde groei in hulle gemeentes. So ‘n benadering kan vir jare bestaan, maar uiteindelik verloor die koninkryk van God. Ons praat van meer as net die eer vir elke goeie ding vir jouself aanvaar nie. Jy wys ook dat jy jou span waardeer. Jy moet in die openbaar spog oor hulle oorwinnings. Dit motiveer dikwels ander mense om hulle te probeer naboots.


bottom of page