Ses en twintig teen amper vier biljoen…
top of page

Ses en twintig teen amper vier biljoen…


Verlede week het ek in Beeld se Goeie Nuus kolom vertel van ’n 2019 verslag van Oxfam wat berig dat die wêreld se 26 rykste mense net soveel geld het soos die 3,8 biljoen armste mense op die planeet. Met ander woorde, hulle is ryker as die helfte van die wêreldbevolking. Die rykste man op aarde tans is Jeff Bezos, die eienaar van Amazon. Sy rykdom word op $112 biljoen geskat. ’n Skamele 1% van sy besittings is gelyk aan die totale gesondheidsbegroting van Etiopië met 105 miljoen mense. O ja, en hy is steeds die rykste op die planeet nadat hy pas $38 biljoen moes oorbetaal aan sy gewese vrou MacKenzie Bezos na hulle egskeiding.

Ek wonder hoe laat hierdie syfers jou voel? Natuurlik is dit goor as die rykes net al hoe ryker word en die armes al hoe armer en ook al hoe meer. Geld verander blitsvinnig in ’n klipharde baas. Nee, die Bybel is nie teen geld as sodanig nie. Die Bybel waarsku teen geld wanneer dit jou baas is As jy voltyds hiervoor werk en leef, gaan jy God se genade misloop. So sê Jesus in Matteus 6. Jy kan nie God en Mammon saam dien nie. Of jy aanbid vir God, of jy aanbid geld. Sorg dat geld nooit jou meester en slawedrywer word nie. Geld is ’n middel tot diens. Geld is ’n kneg. Sorg dat jou geld vir God werk. Doen goed in die Here se Naam met die paar rande of sente wat jy op jou naam het.


bottom of page