Leier Nuusbrief Junie 2019
top of page

Leier Nuusbrief Junie 2019


Maak 'n verskil

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig (2 Korintiërs 1:3 – 4). Suider-Afrika is deur groot rampe getref – Mosambiek en KwaZulu-Natal. Die vraag is: Kan die kerk ‘n verskil maak? Die kerk moet verstaan dat ons bemoedig word om ander te bemoedig; dat ons vertroos word om ander te vertroos. In die Goeie Nuus van Jesus Christus het ons die grootste moontlike bemoediging gekry: ons is verlos en het die belofte van die ewige lewe met God. Ons weet dat deur Christus is ons sondes vergewe. Ons weet dat God ons in Christus aanvaar het. Ons mag nie doodloopstrate van God se seën wees nie. Ons moet afvoerbuise wees. Dit was nooit bedoel dat die evangelie in die kerk moet vashaak nie – dit moet deur die kerk na die wêreld versprei word. Die antwoord op ons vraag is duidelik: die kerk kan, volgens Paulus, ‘n verskil maak. Natuurlik kan jy alleen nie die wêreld verander nie. Jy kan nie al die wêreld se probleme oplos nie. Maar Christene wat bymekaar kom, kan wel iets doen. Elkeen van ons kan iewers ‘n verskil maak. Al hierdie klein verskilletjies saam maak ‘n groot verskil. Die uitnodiging aan alle Christene is: word ‘n verskilmaker!

Doen net iets

As jy ‘n probleem wil oplos, moet jy seker maak dat jy die ware probleem oplos. As ons optrede nie duidelik is nie of as die probleem baie moeilik is, kan ons maklik voel dat ons iets moet doen – enigiets. Ons glo dat optrede beter is as om niks te doen nie. Die keuse is egter nie tussen optrede en geen optree nie. Daar is ‘n derde opsie wat dikwels meer sin maak. “We trained hard, but it seemed that every time we were beginning to form into teams, we would be reorganized. I was to learn later in life that we tend to meet any new situation by reorganizing, and what a wonderful method it can be for creating the illusion of progress while producing confusion, inefficiency, and demoralization.” Petronius, Romeinse Arbiter (27 – 66 nC). Dit klink nogal bekend. Organisasies wat swak presteer is gedurig besig om te her-organiseer. Her-organisasie het baie dikwels baie min impak op die resultate. Ons verwar dikwels beweging met resultate. As jy beweeg, voel dit vir jou dat jy besig is om iets te doen. Terwyl ons besig is om iets te doen kan ons nie eintlik misluk nie. Beweging is goed vir ons ego. Die wêreld heg groot waarde aan aksie. Daar is mense wat altyd besig is om te beplan. Solank ons beplan is daar geen risiko vir mislukking nie. Beweging laat ons met die indruk van vooruitgang. Ons mag nie beweging met resultate verwar nie. Beweging is maklik, maar resultate is moeilik. Voorbereiding is noodsaaklik, maar nie voldoende vir resultate nie. Pascal het gesê: “The sole cause of man’s unhappiness is that he does not know how to stay quietly in his room.” Ons moet leer om te bepaal wanneer om stil te sit in ‘n kamer ons help of hinder. Die probleem is dat ons ons oortuig het dat daar net twee moontlike opsies is: doen iets of doen niks nie. Daar is ‘n derde opsie – kry meer inligting. Daar is altyd die druk op ons om onmiddellik iets te doen. Meestal is hierdie optrede van geen waarde nie. Ons moet eerder stilstaan en meer inligting bymekaar maak voor ons optree. As jy weer voel dat jy iets moet doen net om iets te doen, dink aan die woorde van Thorau: “It is not enough to be busy; so are the ants. The question is: What are we busy about?”

Doeltreffende versorging

As dit by die versorging van mense in die gemeente kom, kan die leiers en ‘n paar vrywilligers nie alles doen nie. Paulus skryf: Ons was liefdevol en sag teenoor julle (1 Tessalonisense 2:7). Paulus het besef dat dit noodsaaklik was dat gelowiges versorg word. Niks het nog verander nie. Dit vereis tyd om verhoudings te bou. Hierdie proses van versorging kan nie met ‘n enkele e-pos, teksboodskap of selfs ‘n telefoonoproep afgehandel nie. Dit vereis gereelde persoonlike kontak en opvolg. Dit vereis baie mense om hierdie bediening in die gemeente uit te voer. Daarom kan kerkleiers en ‘n paar vrywilligers dit nie alleen doen nie. Die hele gemeente moet vir die hele gemeente sorg. So ‘n versorgingsbediening gaan altyd saam met dissipelskap. As lidmate mekaar doeltreffende versorg kan die pastorale personeel fokus op prediking en onderrig van die Woord. As die versorgingsbediening lidmate aktief betrek, kan hulle die dienstaak wat hulle opgelê is en waartoe hulle geroep is, doen: Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus (Efesiërs 4:12). Hoe doen ons dit? Hier is ‘n paar idees:

1.Groepsbediening

In meeste kategeseklasse en Bybelstudie groepe behartig een of twee persone die versorging van ‘n groep mense. Hulle is van groot waarde as bronne van inligting. Kry al hierdie mense gereeld bymekaar om idees uit te ruil, strategieë te beplan en behoeftes te kommunikeer.

2.Betrek die diakens

Versorgingsbediening is moeilik en tydrowend. Dit benodig liefde en toewyding. Jy moet die liefde onder alle omstandighede bewys. Diakens is juis geroep om mense te bedien. Om hulle by die versorgingsbediening te betrek help hulle om God se roeping vir hulle lewens te vervul.

3.Kry die familie betrokke

Bediening word ten beste as ‘n span gedoen., veral as gesinne betrokke is. Om families betrokke te kry is ‘n seën vir die gemeente, veral as dit die kindertjies ook insluit.

4.Vertrou op gebed

Niks kan in die Naam van Jesus gedoen word sonder afhanklikheid van Jesus nie. Versorginsbediening word dikwels gedoen waar geestelike stryd plaasvind. Gebed is nie ‘n opsie nie- dit is noodsaaklik. In elke gemeente is daar gebedshelde. Kry hulle betrokke by die versorgingsbediening.

5.Jy moet ‘n studiegids hê

Diegene wat besoeke doen, moet ‘n studiegids hê. Daar is sulke gidse beskikbaar (Bible Studies for Life, Explore the Bible en The Gospel Project). Om so ‘n waardevolle dissipelskap-instrument by iemand te laat wat pas versorg is, is waardevol en verbind hule aan die voortgesette bediening.

6.Leer die gemeente om te luister

Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie gou kwaad word nie (Jakobus 1:19). Soms soek mense net iemand om mee te praat. ‘n Goeie luisteraar kan vir hulle al die verskil maak. Mense moet opgelei word om goeie luisteraars te wees. Klein dingetjies beteken baie. Hierdie is enkele idees, maar die groot beginsel bly steeds: Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus (Galasiërs 6:2). Of dit nou bediening van siekes, kommer oor nuwe gelowiges of kommer vir gebroke mense in ‘n gebroke wêreld is, die versorgingsbediening is ‘n integrale deel van die gemeente.


bottom of page