Tien gebooie vir Suid-Afrika
top of page

Tien gebooie vir Suid-Afrika


Watter soort mens wil jy graag wees? Wil jy byvoorbeeld sterk wees of wil jy veilig wees? Wil jy gemaklik wees of wil jy volwasse wees? Wil jy geluk hê of wil jy betekenis hê? Hopelik hoef ‘n mens nie altyd te kies tussen die een óf die ander nie. Dit help egter soms om dinge tydelik teenoor mekaar af te speel om sodoende ‘n mense se eie lewensfokus te probeer vasstel of bevestig. Ervaring het byvoorbeeld al geleer dat mense wat veiligheid, geluk en gemak gedurig stel bo geestelike waardes soos innerlike krag, betekenis en volwassenheid, heel dikwels nie hulle volle potensiaal bereik as mense nie.

Wanneer ek byvoorbeeld in Suid-Afrika na sommige Jesus-volgelinge luister, dan kom sulke mense somtyds oor as jammerlik, verontreg, pateties, swak en bang. Dis sekerlik verstaanbaar. Die Here is lief vir ons. Hy weet waardeur ons gaan. Hy besef die lewe kan soms hard wees. As gekruisigde verstaan Hy dit. Daar is dus geen veroordeling nie. Hy begryp dat Suid-Afrika stormgeteisterde gebied is en dat storms soms slagoffers, pyn en hartseer agter laat.

Dis egter ewe duidelik uit die Bybel dat God nie wil hê dat ons op ‘n lang termyn gevange gehou sal word deur sulke afgewaterde en arm karaktereienskappe wat ons geestelik weerloos laat nie.

Hierdie dinge is natuurlik ook keuses waarvoor die vroeë kerk en die Nuwe Testamentiese gelowiges gestaan het. Wanneer Jesus byvoorbeeld in Johannes 17:15 bid vir sy volgelinge dan sê Hy

Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar.

Johannes se verstaan van bewaring van die bose beteken dat God nie beoog om hulle uit die moeilikheid van die wêreld weg te neem nie maar eerder innerlik sterk sal maak deur Jesus se oorwinning aan die kruis. Dit wil sê dis vir Jesus belangriker dat ons in die storm sal bly en die soort karakter ontwikkel wat ons sterk sal maak sodat ons die golwe en wind sal kan trotseer. Hy wil hê dat ons stormlopers sal wees eerder as slagoffers van storms. Mens leer egter nie orkane trotseer van buite die storm nie maar deur elke dag self teen die wind te beur, deurdrenk te word van die reën en die koue te weerstaan. So leef ons elke dag as volgelinge van Jesus binne-in ‘n paradoks: ons hang swak saam met Jesus aan die kruis sodat ons sterk in die storm kan wees. Ons verloën onsself aan die kruis sodat ons onsself kan vind in die win en koue.

Om hierdie rede het ek – om my eie lewe op koers te hou – vir myself “Tien gebooie” opgestel van hoe ek graag sal wil leef in ‘n mooi, maar storm-geteisterde Suid-Afrika. Ek deel dit graag met julle:

  1. Ek hou vandag op om myself of my eie etniese groep as ‘n verontregte slagoffer te sien en oefen myself eerder om te ontwikkel in ‘n sterker mens wat swaar storms saam met die Here kan trotseer.

  2. Ek aanvaar die ganse lewe in SA soos dit is en nie soos wat ek dit graag wil hê nie. Dit gaan immers nie oor my nie.

  3. Ek sal nie my ore uitleen aan bedrieglike profete wat vals hoop saai nie. Hoop is belangrik, maar die ontnugtering van vals hoop is dodelik. Vra vir Jeremia (Jer 29:8-9).

  4. Ek weier om enige besluite te neem gegrond op negatiewe emosies soos vrees of woede.

  5. Ek sal enige onreg wat my aangedoen word die hoof bied deur nie bitter te raak nie maar eerder poog om te vergewe asook genesende, hoopvolle aksies en verhoudinge te inisieer.

  6. My lewensvreugde sal nie afhang daarvan of eksterne omstandighede in SA verander of nie maar primêr van my verhouding met God. Ek sal dus bid en hoop vir goeie weer maar myself oefen om gereed te wees vir reën en storms.

  7. Ek weier dat die nuus op TV, asook populêre en publieke opinie my emosies en sienings bepaal en sal eerder proaktief nuwe Jesus-oë ontwikkel van buitengewone genade, geloof, hoop en liefde vir Suid-Afrika en vir álle mede-Suid-Afrikaners.

  8. Ek sien al die kultuurgroepe in SA as ‘n Godgegewe verskeidenheid, wat ons bestaan kan verryk indien ons dit omhels.

  9. Ek sal intensioneel brûe bou tussen mense van alle rasse in SA deur mede-Suid-Afrikaners van kleur ook te bevriend en by hulle te leer.

  10. Ek sal intensioneel poog om intelligensie te ontwikkel vir ander kulture in SA, hulle te leer ken en verstaan, totdat die liefde van Jesus sigbaar word vir almal.

En ek sal onthou dat Jesus gesê het:

Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.


bottom of page