Eenvoud te midde van brandende dekodeerders, kerklike kopstampe, en politieke planne
top of page

Eenvoud te midde van brandende dekodeerders, kerklike kopstampe, en politieke planne


Die lewe gebeur vinnig en vreemd! Dit is nou die in-ding om dekodeerders te verbrand; kerklike armdruksessies te hou, en om politieke munt te slaan uit enigiets. Hoe dink jy oor dit alles? Moet jy saamroei? Moet jy uit die pad staan? En uit wie se pad? Want om hier uit die pad te staan, maak dat jy alweer daar in iemand anders se pad beland. Die lewe is nie eenvoudig nie. Of dalk is dit. Dalk is daar tog ’n stukkie eenvoud te vind te midde van al die ingewikkeldheid van die lewe. Eenvoud is nie om al die moeilike vrae en dinge waarmee mense worstel te systap nie. Inteendeel. Gesonde eenvoud het egter te make met ’n paar basiese boustene:

  • Eenvoud is om te weet wie ekself is en waarvoor God my op die aarde geplaas het. Dit bring ’n diep innerlike vrede binne in my.

  • Eenvoud is om nie alles vir almal te probeer wees nie. Ek is wie ek is. Ek het wel ’n paar talente by die Here ontvang waarmee ek ander mense op unieke maniere dien. Dit doen ek graag op my eie maniere. Ek is nie ’n kloon van enigiemand anders nie.

  • Eenvoud is om nie ’n opinie of ’n mening oor alles te moet hê nie. Ek neem nie deel aan elke debat of gesprek nie. Wysheid is om soms net stil te bly soos wat Spreuke my leer. Ek hoef nie elke keer reg te probeer wees nie. Of gehoor te moet word nie.

  • Eenvoud is om nie agterna te praat wat almal sê, glo en dink nie, maar om self by die essensie van dinge uit te kom. Dit is om vars en kreatief te dink en te praat. Wanneer ek my eie stem vind wat God vir my gegee het, is die lewe regtig eenvoudiger… al is die res s’n kompleks.


bottom of page