Wat is in 'n naam?
top of page

Wat is in 'n naam?


Johannes 20:26-28 Name spreek boekdele. As ek die naam Paulus hoor, dink ek aan: uitverkoop aan die Here. Dawid is weer 'n man na God se hart. Petrus beteken vir my net een ding, kerk, en as ek die naam Judas hoor, dink ek aan verloëning. So is daar mense in jou vriendekring wat jou aan ander persoonlikheidseienskappe laat dink. Dalk bring die naam slegte herinneringe. Sekere name laat jou weer net positief voel.

Ons het 'n baie definitiewe gedagte wat ons dink as ons die naam Tomas hoor. Ons het selfs 'n spreekwoord wat na hom verwys nl. “Hy is 'n ongelowige Tomas.” Ons weet nie veel van die dissipel af nie, maar ons weet verseker dat hy wantrouig was. Ons hoor in geen ander Bybelboek van Tomas nie. Hy word net in die evangelie van Johannes genoem. Die hartseer is dat ons sy naam koppel aan 'n insident waar Hy nie wou glo Jesus het opgestaan nie. In Johannes 11:16 toe Jesus op pad was na Jerusalem, maak hy 'n baie belangrike uitspraak. Hy moedig die ander dissipels aan om saam te gaan sodat hulle saam met Jesus kan sterwe. Hulle was bang want hulle het geweet hulle kan doodgemaak word.

Tomas se belydenis in vers 28 is nie die van 'n twyfelaar nie. Hy noem die Here, my God. Dit is nie die uitspraak van 'n ongelowige nie. Dit is 'n belydenis. Dit is jammer dat ons op die ou einde Tomas so geëtiketteer het, tot die van 'n ongelowige, terwyl dit op die ou einde nie die waarheid is nie. Tomas se naam het deur die eeue heen n reputasie gekry wat dalk nie verdien word nie. Dit is jammer dat ons nie die ander twee tekste dieselfde waarde gee nie. Dit is asof ons hulle ondergeskik stel aan die twyfelaars teks.

Wat lê in 'n naam? Of kan ek vra watter verkeerde indruk het jy dalk van 'n sekere naam. Dalk ken jy iemand wat jy oordeel en bly veroordeel terwyl een insident jou opinie verander het. Soek iets wat die teendeel kan bewys. Jy sal dalk verras wees oor die wonderlike eienskappe van die persoon.


bottom of page