Die kruis is leeg en die graf ook
top of page

Die kruis is leeg en die graf ook


Die dood het sy beroemdste slagoffer blitsvinnig verloor. Die dood kon Jesus nie toesluit of gevange hou nie. Hy is sterker as die kruis. Hy is ook sterker as die dood. Jesus verklaar die dood dood. Hy stap die hekke van die doderyk uit die pad. Jesus leef. Daarom is daar hoop. Saam met Paulus in 1 Korintiërs 15 kan ons ook uitroep: “dood waar is jou angel?” Dood se bluf is geroep by die kruis en by die leë graf van Jesus. Die dood wen nie meer nie. Dit gaan ook nie wen in jou en my lewe nie. Dood se fut is uit. Die kruis sê so. Die leë graf bevestig dit. As ons hierdie evangelie nie voluit glo nie, is ons die mees hooplose van alle mense. So sê Paulus. Ons hoop is Christus, die gekruisigde en opgestane Here. Hy is Triomfator oor al die magte. Hy is die Here wat ook ons eie dood vooruit getroef het. Dis die goeie nuus oor ons eie toekoms. Ons weet ons dood is nie “game, set and match” nie. Ons dood is die brug na die tweede deel van ons nuwe lewe toe. Dan stap ons oor na daardie lewe toe waar Christus sigbaar is.


bottom of page