‘n Doodle-dagboek vir kinders/meisies [resensie]
top of page

‘n Doodle-dagboek vir kinders/meisies [resensie]


Dié twee boeke gebruik die interessante konsep dat die laerskoolkind, en tienermeisie, ‘n Bybelse dagboek elke dag gebruik, nie bloot om te lees nie maar om saam te krabbel en kreatief te wees. Elke bladsy bevat ‘n oordenking uit die Bybel maar dan is daar ook volop plek om kreatief uitdrukking aan gevoelens en idees te gee, en te teken wat geleer word uit die teks. En die kind het vryheid om dit te doen soos hulle ook al wil.

Letterlik elke bladsy wat jy omblaai, hou ‘n verrassing in. Die dagboek vir kinders bied ‘n gawe oorsig oor die gang van die heilsgeskiedenis in die Ou sowel as Nuwe Testament, van die skepping tot die vervulling van die belofte in die wederkoms. Wanneer die brood uit die hemel waarvan Eksodus 16 vertel, bespreek word, kry die kind die geleentheid om gawes te teken wat elke dag uit die hand van die Here kom. Waar 2 Kronieke 1 oor wysheid handel wat Salomo begeer meer as enigiets anders, kan die kind dit teken wat hulle meer as enigiets anders graag wil hê. En dan word beklemtoon dat die dinge wat ons nie kan sien nie, die belangrikste in die lewe is. In Lukas 5 se vertelling oor Jesus se roeping van sy dissipels, teken die kind ‘n manier om vandag aan die Here gehoorsaam te wees.

Die dagboek vir tienermeisies bestaan uit 5 dagstukkies vir 12 weke wat elke week oor ‘n ander onderwerp handel en afgestem is op ‘n mens se verhouding van vriendskap met die Here. Die temas wissel van: ek en God, wie is ek?, die vreugde van dissipel-wees, die geheim van tevredenheid in die Here, die rol van familie, vriende en vyande, ware liefde en ware skoonheid, keuses en gebed tot aanbidding en getuienis. Geskryf in die taal van tienermeisies en geïllustreer met wat vir hulle belangrik is, kan die meisies hier die prente inkleur en plek-plek ook hulle eie ontwerp. Wanneer die dag se tema is: om God se wil te vind, is die voorstel dat die meisie aan haar wildste drome vlerke gee – as sy geld, opleiding en tyd sonder perke gehad het, wat sou sy wou gaan doen wanneer sy groot is. En sy word aangemoedig om die Here te vra om haar te help om eendag met haar lewe te doen wat Hy wil hê, en om elke dag waar sy is sy wil na te jaag. Wanneer die tema handel oor die gevare as jy jouself met ander begin vergelyk en die wanhoop waartoe dit kan lei, kry die meisie die geleentheid om 3 tot 5 gawes te teken wat die Here vir haar gegee het.

‘n Innoverende konsep waar die jongmens interaktief deelneem aan die dagboek; die sukses hiervan daag die kerk uit om te dink hoe ons ons eredienste op soortgelyke wyse interaktief kan inrig. Onderrig gebeur in postmoderne tye op geen ander manier nie!


bottom of page