Die Gees bid vir sý wil
top of page

Die Gees bid vir sý wil


“Here, soms kán ek eenvoudig nie bid nie.

Ander kere is ek nogal vies vir U en dan wíl ek nie bid nie.

Veral wanneer ek U om iets smeek, en U vir my ‘Nee’ sê

of wanneer dit voel of U my nie eens antwoord nie!

Gees van God, vergewe my sulke tye my ongeloof

en bid dan asseblief namens my ...

vir ú wil ...”.

Soms is dit moeilik om te verstaan waarom God nie “ja” op alle gebede antwoord nie. Veral wanneer ons glo dat ons nogal iets volgens sy wil vra, en ons dit dan nie kry nie. Of wanneer ons regtig vir lang tye oor iets bid en dit voel of God doof is vir ons smekinge. Dis dan maklik om handdoek in te gooi ... Maar dis juis die tyd wat ons onsself maar net moet oorgee aan die Gees en by Hom moet pleit om die régte dinge te bid. .Wanneer ons dit doen, kan ons regtig maar ontspan. Die Gees pleit vir ons binne die konteks van God se volmaakte wil met ons lewens.

Bly glo. Bly vertrou en bly vra die Gees om namens jou in te tree. Hy doen dit met groot liefde en met heilige verantwoordelikheid.

O Gees, bid asseblief u gebed vir my.


bottom of page