Sit eers jou eie suurstofmasker op
top of page

Sit eers jou eie suurstofmasker op


In ‘n noodgeval sit eers jou eie suurstofmasker op voordat jy ander passasiers help.” Hierdie is standaard instruksies van kajuitpersoneel aan passasiers in vliegtuie sou die kajuitdruk skielik afneem. In ‘n noodgeval wil ons instinktief heel eerste ons geliefdes versorg en beveilig voordat ons onsself help. Die waarskuwing hier is egter dat jy niemand kan help as jy self in die slag bly omdat jy ander eers gehelp het nie. Hierdie raad is vir ‘n noodgeval, maar soms leef ons wat selfversorging betref baie na hieraan.

In 1 Konings 19:4 lees ons die verhaal van Elia wat uitgebrand onder die besembos lê en wens hy kan doodgaan. Nadat hy die Baäl profete op Karmel verslaan en hom Isebel se wraak op die hals gehaal het, vlug hy saam met sy slaaf die woestyn in. Die gebeure op Karmel berg het sy emosionele, fisiese en geestelike battery leeg getap: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.”

Hoekom is dit so moeilik om selfversorging toe te pas? Soos baie ander voel ek dikwels dis te selfsugtig, ‘n swakheid. Die realiteit is dat ek nie effektief aan ander kan gee as my eie tenk leeg is nie. In Galasiërs 6:2 herinner Paulus ons daaraan om uitvoering te gee Jesus se liefdeswet deur mekaar se laste te dra. Om ander te dra impliseer egter dat ek self sterk sal wees, daartoe in staat sal wees om dit te kán doen.

Daar is baie praktiese raad hoe om selfversorging toe te pas, dinge soos genoeg slaap, gesond eet en oefening doen. Dit is alles goeie raad maar ek het die helende, lewensveranderende genade van ‘n God wat my so lief het, nodig. Jesus self nooi my “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee,” (Matteus 11:28). Wanneer ek dan stil word in gebed en na lewensbeginsels soek in die Bybel, ontvang ek daar in Sy teenwoordigheid liefde en vrede, asook ‘n Hemelse perspektief op my probleme, spanning, vrese en gejaagde leefstyl. By Hom word ek tot oorlopens toe gevul. So vol dat my beker oorloop – eers in die piering en dan op die tafel – oorgenoeg om ook aan ander uit te deel.

Net soos Elia is dit noodsaaklik dat ek so my eie “suurstofmasker” aansit om my fisiese, emosionele en geestelike battery vol te maak sodat ek weer effektief kan dien in God se Koninkryk.

“Selfcare is not selfish. It is recentering your mind, body and soul so you have the ability to lead and love other from a place of peace, stability and strength.” Brittney Moses


bottom of page