Moenie op die Woord staan nie; klim af en lees dit!
top of page

Moenie op die Woord staan nie; klim af en lees dit!


Dit help veel jy staan net heeltyd op die Bybel, maar jy lees dit nie reg nie. Of jy oordink dit nie behoorlik nie. Om bloot net die regte dinge oor die Bybel te sê of te glo, is te min. Baie mense lees die Bybel, maar hulle lees dit nie reg nie. Baie mense ken ’n paar Bybelversies, maar hulle het nog nooit een Bybelboek se inhoud bemeester, of behoorlik in hulle lewe ingemessel nie. Handelinge 8 vertel juis van iemand wat die Bybel gelees het sonder om dit te verstaan. Dit is die hofdienaar van Etiopië. Toe stuur die Heilige Gees vir Filippus na hom toe om die Skrif vir hom uit te lê. Om die Bybel te lees, is nog lank nie genoeg nie. Dit moet reg gelees en verstaan word. Dit moet reg uitgelê word.

Om die Bybel reg te verstaan, moet jy dit boek vir boek deurlees, en nie net van gunsteling vers tot gunsteling vers rondspring nie. God het Bybelboeke aan ons gegee, nie Bybelverse nie. God het mense soos Paulus, Amos, Esegiël en Jakobus gebruik om sy wil by wyse van boeke met ons te deel. Hy het nooit in in ’n paar losstaande idees of verse met ons gepraat nie. Het jy geweet, hoofstuk indelings, soos wat ons dit vandag gebruik, is eers in 1227 deur Stephen Langton ingevoeg in die Bybel. Vers indelings het selfs nog later gekom. Dis eers in die jaar 1555 deur Robert Estienne gedoen. Te veel mense ly aan “versitis.” Hulle kies ’n paar Bybelverse waarop hulle kan staan en laat staan die res van die Bybel eenkant. Hulle probeer leef op ’n Bybelvers per dag.

Dis hoog tyd dat ons weer die Bybel boek vir boek lees, beluister en uitleef. God praat eerstens deur Bybelboeke met ons. Hierdie lewensveranderende verhale moet ons bo-oor ons eie lewenstories skryf en agterna leef. Ons moet dit dag en nag oordink en dit ingraveer op ons handpalms, ons voetspore, ons gedagtes en ons harte.


bottom of page