Moenie ’n karakter-beoordelaar wees nie
top of page

Moenie ’n karakter-beoordelaar wees nie


“Its during the worst storms of your life that you see the true colors of the people who say they care for you.” Sulke opmerkings wemel op sosiale media. Dit laat my altyd skuldig voel. Ek meen, kan jy regtig elke keer daar wees vir ander mense? Of genoeg kere daar wees? Maar hier’s ’n nuusflits: volgens die Bybel is die eintlike karaktertoets in krisistye bedoel vir diegene wat self deur die krisis gaan. Dan is dit nie die tyd om ander mense se karakter te beoordeel in terme van hoeveel hulle vir jou omgee in jou swaarkry nie. Of hoeveel mense vir jou gebid het, en hoeveel nie. Jy is in elk geval nie geroep om ’n “karakter-beoordelaar” te wees nie. Daar is nie so ’n kompetisie hier op aarde nie. Laat dit aan God oor. Hy het al die feite. Net Hy kan ons harte lees.

Moenie ander mense meet aan hulle waarde vir jouself nie. Jesus se roete is presies andersom. Sy opdrag is dat jyself daar moet wees vir ander mense in gewone tye en in krisistye sonder om boek te hou van hulle reaksie. Maklik? Gewis nie, anders het almal dit reggekry. Maar jy moet doen wat reg is as jy sê die Jesus is jou Heer. Gee ruim om sonder om ander mense te laat skuldig voel. Hou op om boek te hou van kwaad en goed. Die liefde, 1 Korintiërs 13 se soort, maak dat jy gee en gee. Soos wat ek aldag sê: “ons betaal meer in binne elke verhouding as wat ons hieruit onttrek.” Ons is nie verbruikers of beoordelaars van mense nie, ons is beleggers in hulle lewe. Ons belê God se liefde in hulle en laat die resultate aan Hom oor.


bottom of page