Leier nuusbrief Januarie 2019 deel 2

January 30, 2019

 

Voornemens

 

Nuwejaarsvoornemens is niks nuut nie. Babiloniërs het aan die begin van die jaar teenoor hulle gode beloftes gemaak. Hulle het belowe om alle goed wat hulle geleen het terug te gee en om hulle skuld te betaal. Romeine het elke jaar begin deur beloftes aan hulle god Janus te maak.

 

Ten spyte van hierdie lang geskiedenis, lyk dit asof min mense in staat is om hierdie voornemens suksesvol uit te voer. Studies wys dat 92% misluk. Die vraag is: Hoe kan ons ons beloftes nakom hierdie jaar? Maak minder voornemens. Kies op die meeste twee of drie en kry ‘n betroubare vriend om jou aanspreeklik te hou.

 

Kan die Skrif ons help? Beslis.

 

1. Onthou die doelwitte van God vir ons lewe.

 

Hier kan Josua ons help. Na Moses se dood sê die Here vir Josua; Moses, my dienaar, is dood. Maak jy nou gereed en trek deur die Jordaan rivier, jy en hierdie hele volk. Gaan na die land toe wat Ek aan julle, die Israeliete, gee (Josua 1:2). Josua was waarskynlik terneergedruk dat sy mentor en leier dood was. God gee aan Josua so ‘n seining van sy doel om Israel in die beloofde land te lei. God herinner Josua aan die ooglopende – Moses is dood – dit is nou tyd vir Josua om na vore te tree en sy doel in die lewe uit te voer.

 

As ons wil vorentoe beweeg, moet ons ook luister na God se doelwit vir ons lewe. Dalk is dit nou die tyd vir jou om, soos Josua, vorentoe te beweeg. As jy gedurig vir jou herinner aan God se doel vir jou lewe, sal jy die regte voornemens maak soos jy vorentoe beweeg.

 

2. Onthou die beloftes van God vir ons lewens

 

Soos Ek aan Moses gesê het, gee Ek aan julle elke plek waar julle kom: van die woestyn af en van die Libanon af tot aan die groot rivier, die Eufraat, die hele gebied van die Hetiete tot aan die Groot See in die weste, alles sal julle woongebied wees (Josua 1:3 – 4).

 

Ons moet na God se beloftes vir ons lewens luister as ons die beloftes van God aan ons kant het, kan ons nie verloor nie.

 

Ons moet ons lewens met dieselfde gesindheid as Josua leef. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). Sy beloftes in sy Woord, sal ons help om ons koppe hoër te hou, ons gedagtes helderder en ons fokus skerper.

 

As jy weer voornemens maak, hou Josua in gedagte.

 

Oortuig gaste om terug te kom

 

Ons almal ontvang liefde op verskillende maniere. In 1995 publiseer Gary Chapman sy bekende boek; The five love languages. Hy sê dat almal van ons ‘n moedertaal het as dit kom by die gee en ontvang van liefde. Hierdie selfde beginsels kan gebruik word as ons gaste by ‘n erediens verwelkom.

 

Jou ontvangsbediening kommunikeer met besoekers deur die een liefdestaal wat hulle verstaan. Dit is meer as: “Ons is bly jy is hier. Ons hoop ons sien jou weer.” Ons wil kommunikeer: ‘’Ons is lief vir jou; ons is lief vir God en die mense gemaak na sy beeld. Ons wil jou graag ontmoet met daardie liefde op die plek waar jy is.”

 

Maar hoe sê jy: “ek is lief vir jou” aan ‘n vreemdeling wat jou gemeente kom besoek.

 

1. Woorde van bevestiging

 

Dit is die eenvoudigste manier om vir iemand te sê dat jy lief is vir hom. verwelkom hulle mondelings. Sê dat jy bly is om hulle te sien. As hulle ‘n kaartjie voltooi gee aan hulle ‘n pamflet met woorde vol liefde en sorg.

 

2. Diens

 

Help hulle om ‘n parkeerplek te kry. Gereserveerde plekke vir gaste is ‘n goeie idee. Help hulle met hulle kinders – waar is hulle klaskamers, ens. Help hulle om ‘n plek in die aanbiddingsruimte te kry. Wys vir hulle waar die klas vir nuwe lidmate gehou sal word.

 

3. Fisiese aanraking

 

Almal word met die hand gegroet. Elke kind kry ‘n “high five.” Hier moet ons versigtig wees. Mans moenie vrouens ‘n drukkie gee nie.

 

4. Kwaliteitstyd

 

Die tyd beskikbaar om met besoekers op ‘n Sondag te spandeer is kort. ‘n Klas vir nuwe lidmate word gebruik om die mense van nader te leer ken.

 

5. Geskenke

 

Gee aan hulle koffie en tee en gewyde lektuur. Dit is goed as besoekers die kerk met ‘n glimlag verlaat. Dit wys hulle het liefde ondervind in ‘n taal wat hulle kan verstaan

 

Meeste gemeentes mag een of meer van hierdie dinge doen. Onthou dat elke mens ‘n dominante liefdestaal het. Wees dus bekend met al vyf moontlikhede en wees in staat om mense in hulle dominante taal te hanteer.

 

Surprised by Hope - N. T Wright (2007)

 

Hierdie boek probeer twee vrae beantwoord:

  1. Wat is die uiteindelike toekomstige Christelike hoop soos ons dit in die evangelie kry? Dit is die hoop van verlossing, opstanding en die ewige lewe en die ander dinge wat daarmee gepaard gaan.

  2. Die ontdekking van hoop in ons huidige lewe. Die praktiese manier waarop hoop ‘n werklikheid kan word vir gemeenskappe en individue.

As ons die eerste vraag kan beantwoord behoort dit die tweede vraag te genereer en te onderhou.

Die boek gaan duidelik oor die dood en wat, vanuit ‘n Christelike perspektief gesê kan word wat na die dood volg. Alle taal oor die toekoms is net ‘n stel tekens wat wys na ‘n digte mis. Paulus het reeds gesê dat ons nou in ‘n dowwe spieël kyk, maar eendag sal ons alles sien (1 Korintiërs 13:12).

Ons sien vandag ‘n groot verwarring oor wat gebeur as mense sterf. Daar is geen hoop vir gemeenskappe of individue wat hulle hoop verloor het nie. Solank as wat ons die Christelike hoop sien as om “na die hemel te gaan” of ‘n verlossing wat hoofsaaklik weg van die wêreld is, het bogenoemde twee vrae geen verband met mekaar nie. Die Christelike hoop is God se nuwe skepping vir ‘n nuwe hemel en aarde en hierdie hoop het reeds in Jesus Christus lewe gekry. Daarom is daar ‘n goeie rede om die twee vrae saam te voeg.

Verwarring 

Daar is ‘n hemelsbreë verskil tussen die Moslems wat glo dat die Palestynse seuntjie wat deur Israeliese soldate doodgeskiet word reguit hemel toe gaan en die Hindoe wat glo dat jy in ‘n ander liggaam moet terugkeer om die volgende stap na jou bestemming te onderneem.

Daar is ook ‘n verskeidenheid oortuigings oor waar ons eindig na die dood en wat die dooies tans doen. In groot dele van Afrika speel die voorouers steeds ‘n groot rol in die lewe van die gemeenskap en die individu.

Maar ook onder Christene is daar ‘n verskeidenheid van oortuigings oor hierdie onderwerp. Die oortuiging van die hel was ‘n slagoffer van die Wêreldoorloë. Daar was soveel hel op aarde dat mense nie kon glo dat God so ‘n plek sou maak nie. Mense begin dus ‘n universalisme aanvaar – ‘n Christelike hemel vir alle of ten minste die meerderheid van mense.

Ons het grootgeword in ‘n kultuur van stilte oor die dood. Ons kry vandag ‘n verskeidenheid van oortuigings. Die tradisionele oortuiging van oordeel en hel aan die eenkant en die opstanding van die dooies affronteer die moderne mens. Hier is ‘n paar moderne oortuigings:

  1. Totale vernietiging. Die dood is die einde van die pad. Niks meer volg nie.

  2. Een of ander vorm van reïnkarnasie.

  3. By jou dood word jy in die groter wêreld geabsorbeer – in die wind en in die bome.

  4. Ons kry weer die herlewing van die praktyk om dinge in die doodskis te plaas om die oorledene in sy nuwe lewe te versorg.

Meeste mense het geen idee wat die ortodokse Christelike geloof is nie. Daar word aanvaar dat Christene glo in lewe na die dood. Daar is egter baie variasies op hierdie tema.

Christelike verwarring oor hoop

Baie mense sê daar is geen probleem nie en geen behoefte vir enige hoop nie. Baie liedere, preke en gebede het probeer om die slag te versag deur die dood as ‘n vriend voor te stel. Die dood neem ons na ‘n beter plek. Tradisioneel het Christene geglo in ‘n hemel bokant ons waarheen die verlostes en geseëndes gaan en ‘n hel onder die wêreld waarin die bose en mense wat geen berou het, gaan.

Daar is min in die Bybel oor hemel toe gaan as ons sterf. Baie Christene glo dat as die Bybel van die hemel praat verwys dit na ‘n plek waarheen die verlostes gaan as hulle sterf.

 In die evangelies word na die koninkryk van God en die koninkryk van die hemel verwys. As daar dus van die koninkryk van die hemel ingaan gepraat word, word daar gepraat van hoe om in die hemel te kom – so glo baie mense. God se koninkryk in die prediking van Jesus verwys nie na die post-mortem bestemming van gelowiges nie. Dit verwys ook nie dat ons van hierdie wêreld ontsnap nie. Dit verwys na God se oppermagtige heerskappy wat op aarde soos in die hemel kom. Christene is dan veronderstel om die huidige lewe en huidige liggame te devalueer en om oor hulle skaam te voel. Want hulle is minderwaardig.

Hemel in die Bybel is nie ‘n toekomstige bestemming nie, maar die verborge dimensie van die gewone lewe – God se dimensie. Openbaring 21 – 22 vertel vir ons dat God die hemel en aarde gaan oormaak. Die nuwe Jerusalem daal uit die hemel neer op die aarde en die twee word verenig. Dit word eenvoudig aanvaar dat die woord hemel die toepaslike woord is vir ons uiteindelike bestemming – die finale tuiste.

Wat sien ons vandag in die kerk:

  • Die ou siening van hemel en hel word aangeval.

  • Baie glo nie meer in die hel nie.

  • Almal gaan uiteindelik hemel toe.

  • Daar is ‘n lang post-mortem reis voordat die mens by sy uiteindelike bestemming uitkom.

Hierdie is bloot ‘n moderne siening van die vaevuur, want by die dood is alle mense onvoorbereid om God te ontmoet. Ons het ‘n tydperk van verfyning nodig.

Please reload

ONLANGSE ARTIKELS

November 12, 2019

November 6, 2019

November 5, 2019

Please reload

AFDELINGS & SKRYWERS
LEES SOORTGELYKE ARTIKELS
Please reload

© 2019 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: