Om jou en sy wil een te maak …
top of page

Om jou en sy wil een te maak …


Hy vertaal ons swaarkry in hemelse taal. Hy sug en kla namens ons daar by God. En omdat God die Heilige gees deur en deur ken, weet Hy presies hoekom sy Gees so ernstig vir ons bid. Romeine 8:27b

“Asseblief Pappa! Groot asseblief!”, klink die pleit van ‘n kind dikwels by sy pa. En wanneer daardie smeekogies in ‘n ouer se oë kyk, is dit bitter moeilik om “nee” te sê ... tensy ons natuurlik weet dat ‘n “ja” nie tot ons kinders se beswil is nie.

Wanneer Paulus sê dat die Gees vir ons pleit, moet ons weet dat Hy sy taak regtig ernstig opneem. Hy stuur nie vinnige SMS of epos-versoek aan die Vader nie. Hy gaan kniel as’t ware voor die troon, tree vir ons in en smeek dat Hy sy genade en seën om ons sal vou. Hy neem ons gebroke menslike woorde en selfs die gebrek daaraan en vertaal dit dan in goddelike taal: in dié taal wat ons Vader hoor.

Moet nooit moed opgee om oor iets te bid nie. Selfs nie wanneer jy sukkel om antwoorde en oplossings te kry nie. Die Gees bly pleit vir jou. Onverpoos vra Hy dat die Vader se wil in jou lewe sal gebeur en dat alles vir jou ten goede sal meewerk.

Gebed bring jou altyd nader aan God. Volgehoue gebed leer jou volharding. En wanneer ons gebed God se wil soek … dan het ons geleer om régtig te bid.

Leer my bid, asseblief Vader …


bottom of page