Swakheid lê in ‘n onbewaakte karaktereienskap
top of page

Swakheid lê in ‘n onbewaakte karaktereienskap


Unguarded strength is double weakness.” Oswald Chambers

Abraham was ‘n geloofsheld wat bereid was om sy seun te offer en tog het hierdie sterk geloof hom by twee geleenthede in die steek gelaat toe hy gelieg het deur voor te gee dat Sara sy suster was. Hy het getwyfel en was bang oor wat met hom kan gebeur in die vreemde land waar hulle was. In sy boek, “My Utmost for His Highest”, skryf Oswald Chambers dat dit in ons sterkste karaktereienskappe is waar ons die maklikste kan vasval wanneer ons nie waaksaam is nie.

Ons gee meesal aandag aan die swakker dele van ons karakter as dié waar ons sterk en in beheer voel. En omdat ons ons waaksaamheid verslap is ons ook meer geneig om dan te struikel. Die sterk figure in die Bybel het geval waar hulle die sterkste was – kyk maar onder andere na die helde soos die fisiese sterk Simson en die waagmoedige Petrus.

So kan ‘n gedrewe en taakgeoriënteerde person ‘n werkholis of boelie word wat oor mense loop, en as hy/sy nie daaroor waak nie, kan die perfeksionis ‘n beheervraat word.

‘n Vriendin vertel hoe haar skoonma tydens ‘n onlangse kuier haar kombuiskas reggepak het. Die skoonma is ‘n vrou van vele talente met baie goeie organisasie vermoë. Sy wou natuurlik graag help aangesien die vriendin voltyds werk en drie klein kindertjies het. Die vriendin het dit gelukkig as ‘n gebaar van hulp gesien maar hierdie onnadenkende optrede kon baie seergemaakte gevoelens agtergelaat het as dit nie Geesbeheerd hanteer was nie.

In die Britse parlement het die leier van die opposisie, Jeremy Corbyn, die Britse eerste minister, Theresa May, skynbaar ‘n “stupid woman” genoem. Parlementariërs is mense wat sterk debatteerders is en vinnig op hulle voete moet kan dink. So ‘n onbewaakte oomblik waar iemand sy/haar humeur verloor, kan sy/haar talent in ‘n skerp tong verander wat groot skade kan aanrig.

Chambers moedig verder aan dat ons ons natuurlike Godgegewe talente en gawes sal gebruik tot seën en voordeel van ander en tot verheerliking van Sy koninkryk.

Die sleutel lê in Geesbeheerde waaksaamheid – deur met ‘n wilsbesluit ook my sterk eienskappe onder sy beheer te plaas.

“Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” 1 Korintiërs 10:12


bottom of page