God het die gietvorm weggegooi
top of page

God het die gietvorm weggegooi


God skep nooit generies of in die algemeen nie. Nie een van ons ’n fotostaat of ’n kopie van enigiemand anders nie. Ons is nie vooraf vervaardig, ‘pre-assembled’ aan die hand van ’n standaard hemelse gietvorm wat oor en oor gebruik word nie. Nee, die Here het ’n aparte gietvorm vir ons elkeen. Nadat ons elkeen geskep is, het Hy hierdie gietvorm gebreek en weggegooi. Van kop tot tone is ons uniek. Ons is enig in ons soort.

Van uniekheid gepraat, die skrywer, Paul Coelho, vertel in sy boek “Veronika Decides to Die” van ’n gesprek tussen Dr. Igor en Mari wat ernstig siek is. As sy hom vra of sy genees is, antwoord hy: “No, you are someone who is different. But who wants to be the same as everyone else? And that, in my view, is a serious illness.” Dan voeg hy by dat so ’n generiese ingesteldheid bots met God se wette, want in al die woude wat Hy geskep het is daar nie een enkele blaar wat identies is aan ’n volgende een nie.

Nie een van ons is op ’n vervoerband aanmekaar gesit is en nou soos siellose bliksoldaatjies in gelid moet marsjeer nie. Ons uniekheid is ‘n hemelse geskenk. In dieselfde asem is dit ook ons dure verantwoordelikheid om uniek tot eer van God te leef. Ons moet ons uniekheid omhels en uitleef. Want net onsself kan die Here dien soos wat Hy ons elkeen gemaak het om te doen. Ons moet ons eie, unieke stem vir die Here vind en dit met groot wysheid gebruik.


bottom of page