Wanneer die Bybel nie sin maak nie [resensie]
top of page

Wanneer die Bybel nie sin maak nie [resensie]


Wanneer die Bybel nie sin maak nie.

Enige iemand wat die Bybel ernstig bestudeer en oorpeins, het al raakgesien dat daar plekke in die Bybel is waar daar duidelike weersprekings voorkom. Jy kry tekste wat verduidelik dat God onveranderlik is, en dat wat Hy besluit het vir altyd vasstaan. Maar dan is daar ook tekste wat die indruk skep asof God van plan verander. Soms vra iemand Hom om dit te doen, en dan besluit Hy anders. Of Paulus beklemtoon dat ‘n mens slegs deur geloof gered word en dat jy dit nooit kan verdien nie, terwyl ander gedeeltes weer klem plaas daarop dat jy goeie werke moet doen.

Alhoewel die Tien Gebooie eksplisiet gelowiges verbied om moord te pleeg, kry ‘n mens in die Ou Testament dikwels die opdrag wat God aan sy volk gee om ander volke uit te roei. Hoe versoen ‘n mens dit met mekaar? Of Jesus verklaar dat die eerstes laaste sal wees en dat die nederiges verhoog sal word, dat ‘n mens moet sterwe om werklik te lewe en dat ‘n mens sal lewe selfs al sterwe jy ook.

Dié boek handel oor sulke tekste. Hoe kan ek bly wees as ek swaarkry, soos Paulus beweer? Moet ons die regering gehoorsaam wanneer hulle duidelik ongehoorsaam aan God se wil is? Wat beteken dit as Jesus wat vrede gebring het, beweer dat Hy ook die swaard tussen mense loslaat?

As jy al gewonder het oor uitsprake in die Bybel wat nie sin maak nie, of tekste wat mekaar skynbaar weerspreek, gaan dié boek jou help om antwoorde op talle van jou vrae te vind.

Die tekste word verklaar in terme van hulle konteks en jy sal sien dat die Bybel nie homself weerspreek, soos dit skynbaar daar staan nie. Sulke tekste weerspieël juis die diepte en onpeilbaarheid van God se wysheid en kennis.

‘n Boek wat nie lank neem om deur te lees nie maar die ontsluiting van die Skrif daarin gaan vir elke ernstige student van die Bybel verrykend wees.


bottom of page