10 dinge wat ek wens JESUS nooit gesê het nie [resensie]
top of page

10 dinge wat ek wens JESUS nooit gesê het nie [resensie]


10 dinge wat ek wens Jesus nooit gesê het nie.

Indien ‘n mens Jesus se gelykenisse lees en dit jou nie tot stilstand ruk sodat jy vra: nou wat gaan hier aan? nie, mis jy waarskynlik die punch line daarvan. En dit gebeur omdat ons die gelykenisse al soveel keer gehoor het dat dit ons nie skok nie, soos dit Jesus se eerste luisteraars geskok het.

Dieselfde gebeur met sommige van Jesus se uitsprake. Dalk het ons so gewoond geraak daarvan, en dit al soveel maal vergeestelik gehoor, dat die impak daarvan vir ons verlore gaan.

Dink aan: As jy My wil volg, moet jy jou eie lewe prysgee, elke dag jou kruis opneem en My volg. Om ‘n kruis te dra, beteken immers net een ding: jy is op pad om gekruisig te word.

Of: Indien jy ander oordeel, kan jy verwag om met dieselde maat van genade, of ongenade, deur God geoordeel te word.

En as jou regteroog jou laat struikel, of jou regterhand, ruk dit uit en kap dit af. Dis beter om vermink die hemel in te gaan as om in die hel te beland.

Gelukkig is julle wanneer julle arm en honger is, en huil en vervolg en bespot word. Dit gaan sleg met mense wat meer as genoeg besit en versadig geëet is.

Vreemde uitsprake wat hier sorgvuldig deur Kuligin in konteks geplaas en verklaar word sonder om te poog om die rewolusionêre en radikale aard daarvan te verwater.

Kuligin is senior lektor by die Bybelinstituut van Suid-Afrika in Kaapstad. As sendeling vir lank ken hy die vrae wat gelowiges vra wanneer die Bybel gelees word. En hier help hy jou om nuut en anders oor God, sy seën en sy Seun asook die kerk te dink. En nuut oor dissipelskap, as deel van die kerk.

Sy boek daag ‘n mens uit om weer na Jesus te luister. Maar dan onbevange. En eerlik genoeg sodat jy kan reageer, want Jesus se uitsprake is almal in die vorm van ‘n uitnodiging: Volg My, en vind die ware lewe!


bottom of page