top of page

2018: Terugblik


As ek vir een oomblik ophou hardloop, stilstaan, omdraai en ʼn oog gooi oor die jaar wat verby is, voel ek of ek onder die besembos wil inkruip en vergaan.

Die reste van 2018 het saamgepak om ʼn deurmekaar, slordige laslapkombers te vorm.

Met die eerste oogopslag is die kombers bykans te aaklig om voor te kyk: ʼn Skoonsus wat ʼn maand lank in ʼn koma gelê het na ʼn fietsongeluk en steeds herstel van breinbeserings, ʼn pa wat vir die grootste gedeelte van die jaar bitterlik siek was, drie geliefdes wat onder egskeiding deurgeloop het, depressie, te veel om te doen en te min tyd, die stygende petrolprys, misdaad, korrupsie, rassehaat, grondonteiening, swak ekonomie en werkloosheid. Om maar ʼn paar te noem en nie eens van die magdom klein jakkalsies te praat nie...

Ek wil op my gesig neerval en skree: “ Waar sal my hulp vandaan kom?”

Die pelgrim laat ʼn mens nie toe om op te hou lees nie. ʼn Antwoord wag tog sekerlik op hierdie gewigtige, universele vraag.

“My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”

As ek die kombers van nader bekyk, sien ek iets wat my oë vroeër gemis het: Die teenwoordigheid van die Here loop soos ʼn goue draad oor elke blokkie van die deurmekaar kwilt. En tussen die slordige, lelike dele is daar ook netjiese, pragtige blokke – 2018 was tog nie net sleg nie en as ek mooi daaroor dink, het daar wonderlikhede ook gebeur.

God belowe nie in Psalm 121 dat ek nie in die snikhete son hoef te loop nie. Die mens se pad op aarde is nie maklik nie en tussen skadukolle brand die son skel.

Hy belowe bloot dat Hy sal toesien dat die son my nie steek nie.

Ek sien nou dat ek het in die jaar wat verby is telkemale onder sy beskermende skaduwee uitbeweeg het. En glo my: die son het my gelooi.

My nuwejaarsvoorneme vir 2019 is om in Jesus Christus se skaduwee te bly, tree vir tree, dag vir dag – My hulp kom immers van die Here wat hemel en aarde gemaak het.


bottom of page