Is jy gereed vir die avontuur van ouerskap? [resensie]
top of page

Is jy gereed vir die avontuur van ouerskap? [resensie]


Gary Chapman is die outeur van ‘n reeks boeke wat ‘n groot invloed op talle gelowiges uitgeoefen het en wat handel oor die vyf tale van die liefde. Hy werk al vir 35 jaar as berader en bied ook wêreldwyd seminare daaroor aan asook ‘n radioprogram wat oor 400 stasies uitgesaai word. In dié boek werk hy saam met ‘n professor wat as direkteur van berading van ‘n bekende universiteit nagraadse beradingsprogramme aanbied. ‘n Uitstekende kombinasie vir ‘n boek met baie diepte!

Die boek handel oor ouerskap. Gary vertel wat hy van kinders-kry geweet het voor hulle daardie nuwe, alles-indringende fase van hulle lewe ingegaan het: dat kinders jou geld kos en jou lewe inneem en selfs jou huwelik beïnvloed. Ouerskap was egter vir hom en sy vrou ‘n reuse leerkurwe. En hier kry jy dan ‘n blik op wat hy geleer het, ondersteun deur die insigte van Shannon Warden. Jy lees wat voornemende ouers nie weet nie, van vuil doeke en potjielesse (dis nou mooi Afrikaans vir potty training) tot met hoeveel tyd slaap jy sinvol kan oorleef (dis nou vir wanneer die pragtige pienkvoet 22 uit 24 uur skree!), van die kostes wat kinders-kry inhou tot die uniekheid van elke kind, wat uitdagings aan ouers se kreatiwiteit en inisiatief stel.

Die skrywers vertel jou wat hulle dink elke voornemende ouer moet weet, en wat hulle wens hulle geweet het. Dat kinders grense nodig het al is hulle hoe klein, dat kinders se emosionele gesondheid belangriker is selfs as hulle liggaamlike gesondheid. Dat jou voorbeeld meer vir jou kind leer as wat jy sê, dat ouers moet kan sê dat hulle jammer is as hulle agterkom dat hulle foute gemaak het. Dat sosiale vaardighede net so belangrik is as akademiese vardighede, dat ouers verantwoordelikheid moet aanvaar vir hulle kinders se opvoeding, dat huwelike nie vanself floreer nie en dat kinders-kry swaar stremming daarop kan plaas.

Elke hoofstuk sluit met vrae wat ouers uitnooi om saam te gesels oor sake wat van kritiese belang in ouerskap is en waaroor in die voorafgaande hoofstuk stimulerende inligting gegee is.

Ek wens ek het dit geweet voor ek kinders gehad het! En ek gaan dié boek verseker vir my kinders gee sodat hulle ouerskap makliker en beter sal kan navigeer.

‘n Belangrike boek wat die verskil kan maak wanneer ouers dit gaan toepas. Lees gerus en gee aan ander wat dit ook nodig het!


bottom of page