Dis maklik om oor liefde te praat…
top of page

Dis maklik om oor liefde te praat…


Ek het eenkeer met ‘n vriendin gesels wat ‘n spiritis is. Spiritisme is ‘n nie-Christelike geloof waar mense bymekaar kom om geeste van afgestorwenes op te roep. Afgesien daarvan het sy egter onwrikbaar geglo in ‘n God wat liefdevol is, maar natuurlik sonder die sentraliteit van Jesus. Terwyl ons so lekker sit en kuier rondom ‘n smaaklike ete en ‘n glasie wyn, daag sy my uit met die idee dat dit nie slegs Jesus-volgelinge is wat glo in die uniekheid van ‘n liefdevolle God nie, en dat ander godsdiensgroepe ook mense kan liefhê.

Sy is natuurlik geheel en al reg aangaande die gedagte dat enige iemand van ander geloofsoortuigings ook in ‘n liefdevolle God kan glo en mense ook so kan liefhê. Ek het egter een uitdaging aan haar gerig: Hoe weet sy hoe diep die liefde van so ‘n Jesus-lose God werklik sou strek? Hoe sou sy kon weet hoe ver sy kan- en behoort te gaan in haar liefde vir ander mense? Wat die definisie en omvang van die liefde wat “haar” God sou hê? Wat sou die grense wees van so ‘n liefde?

Sy het heelwat gesukkel om die vraag te beantwoord aangesien die spesifieke liefdesbegrip van haar godsdiensgroep baie algemeen en vaag was.

Ek stel dit toe aan haar dat baie mense en godsdienste voortdurend appèl maak op liefde maar dat die diepte van so ‘n liefde baie onduidelik blyk te wees. Wat het God – soos sy dit verstaan – gedóén om sy liefde te bewys?

Dis wat die Christelike verstaan van God uniek maak. God is uiters spesifiek oor hoe lief Hy die wêreld het. Johannes sê (1 Joh 4:10-11):

Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê.

Jesus se liefdesaanspraak is nie leeg of vaag nie. Hy het sy liefde aan ons bewýs! Hy het dit bewys deur Homself op te offer. Hy het dit nie gedoen deur ‘n beperkte som geld te betaal, of deur bloot sy liefde verbaal te verklaar nie. Sulke alledaagse aansprake sou ons nog kon betwyfel. Nee, Hy het Homself geoffer! Hy het alles gegee. Paulus sê Jesus het Homself leeggemaak aan die kruis (Fil 2:5-6). Daarom kan ons Hom glo wanneer Hy sê dat Hy ons liefhet want ons kan Hom steeds as’t ware aan die kruis sien hang. Iemand wat Homself op hierdie manier opoffer kan geen ander agenda hê as om sy liefde te openbaar nie. Iemand wat al sy mag prysgee kan vertrou word wanneer Hy sê: “Ek het jou lief”, want Hy kan niks anders daarmee wen as liefde self nie.

Ons kan egter ook aan die kruis sien hoe intens en diep die aard van God se liefde is. Vir Iemand wat Homself so opoffer het liefde eintlik geen perke nie. Daarom sê Paulus dat hy wens die gelowiges in Efese kan besef hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek (Ef 3:18). Hierdie soort van liefde is grensloos en dit word die model van ons eie persoonlike strewe om lief te hê. Ons moet mekaar liefhê soos wat Jesus vir ons is en aan ons bewys het. Slegs sulke liefde kan versoening en redding bring en die wêreld heel maak.

Dis maklik om te praat oor liefde. Meeste godsdienste praat daaroor. Jesus het egter die realiteit en kwaliteit van God se liefde kom bewýs in ons wêreld voor die oë van die ganse kosmos om te sien.

Want só lief het Hy die wêreld gehad!


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page