Jesus vat ons veilig land toe
top of page

Jesus vat ons veilig land toe


In 1952 wou Florence Chadwick vanaf Catalina Eiland na ’n strand in Kalifornië swem. In die mistige weer langs die Kaliforniese kus kon sy nie die strand sien nie. Na 15 ure se swemmery was sy doodmoeg en wou terugklim in die boot langs haar. Haar ma sê toe vir haar sy is baie naby aan die land, maar Florence kon nie meer nie. Toe sy in die boot klim, sien sy dat sy minder as ’n kilometer weg was van die land. Florence vertel na die tyd: “All I could see was the fog…. I think if I could have seen the shore, I would have made it.” Dit klink ook na Petrus se dilemma in Matteus 14 terwyl hy vir ’n paar treë saam met Jesus op die water loop. Petrus begin om homself blind te kyk teen al die stormweer rondom hulle. In dieselfde asem kyk hy Jesus skielik mis. Toe sink Petrus. Sy hulpkreet: “Here, red my!” val genadiglik nie op dowe ore nie. Dadelik trek Jesus hom op uit die water en klim saam met sy papnat dissipel in die boot. Vanaf die stormsee tot in die veiligheid van boot is Jesus by sy mense. Hy hoor ons hulpgeroep as ons sink. Hy laat ons weer die land sien. Hyself vat ons veilig soontoe as ons kragte opraak. Jesus is altyd naby.


bottom of page