Teleurgestel en moedeloos in ‘n seer huwelik of gesin
top of page

Teleurgestel en moedeloos in ‘n seer huwelik of gesin


Die gelukkige einde, die “happily ever after”-huwelik. Die volmaakte gesin. Dis die doel waarna ons streef, wat ons selfs dink ons geboortereg is.

En dan kom ‘n noodroep: “Dit lyk asof daar nie meer hoop vir ons huwelik is nie. Ons worstel en swoeg en sien nie positiewe resultate nie. Ons bid, glo en hoop, net om weer ‘n keer teleurgestel te word.”

Die slegte nuus is dat ons heelpad lank groeipyne gáán hê.

Die goeie nuus is dat ons wel op pad is – die volmaakte lê voor! Daar is so baie van ons wat al stoeiende op pad is. Ek kan eerder real wees, eerlik wees en nie probeer om oë te verblind deur voor te gee dat ons nooit sukkel in ons verhouding nie. Dit ís normaal, dit ís oukei om te stoei EN juis vas te byt omdat ons glo dat daar hoop is – nie noodwendig om uiteindelik hierdie “living happily ever after” huwelik of gesin te hê nie, maar om afsonderlik en uiteindelik ook saam nader aan God te groei. So kan ons weer nader aan mekaar groei. Dit is belangrik om te onthou dat die vyand ’n saak het met elke Christen-huwelik en -gesin.

Ek moet net vir myself die vraag afvra: Wat dring my? Selfverwesenliking? Dat my man of vrou of kind of ouer voldoen aan my interpretasie van God se vereistes? Of kan ek soos Paulus sê dat die liefde van Christus my dring? (2 Korintiërs 5:14) En ek moet net onthou dat hierdie Jesus-liefde nie ‘n soppy gevoel is nie, maar ‘n bereidheid om vreesloos te gee wat die ander nodig het.

Wanneer die Gees van God totaal en ongehinderd my lewe beheer, gáán daar ook die vrug van hierdie liefde in my lewe wees. Oswald Chambers sê: “Hierdie totale oorgawe aan die liefde van Christus is die enigste ding wat vrug sal dra in jou lewe. En dit sal altyd die indruk laat van God se heilighed en sy krag, en nooit die aandag vestig op jou eie persoonlike heiligheid nie.”

My probleem is net so dikwels dat ek dit in eie krag wil doen, net om uiteindelik uit te vind dat ek nie kan nie, dat ek self brandarm aan liefde is. En soos Oswald Chambers sê: “Dit is die insig omtrent ons eie armoede wat ons op die regte plek bring waar Jesus Christus sy werk deur ons kan doen.” Dan moet ek bid: Here, kom vervul my met u Heilige Gees sodat ek in staat kan wees om u liefde te lééf!

“Blessed [spiritually prosperous, happy, to be admired] are the poor in spirit [those devoid of spiritual arrogance, those who regard themselves as insignificant], for theirs is the kingdom of heaven [both now and forever].

(Matthew 5:3 Amplified Bible)

NNB As jy in ‘n verhouding staan waar daar fisiese of emosionele mishandeling is, kry asseblief hulp by ‘n betroubare persoon of instansie.


bottom of page