top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Genesis


Gedurende die volgende paar weke gaan ons ’n ietwat langer Goeie Nuus op Maandae hê. Die rede: ons wil kort en kragtig stilstaan by die inhoud en boodskap van ’n paar Bybelboeke. Kom ons skop vandag af met Genesis:

Die goeie begin (Genesis 1-2)

In die begin… Dis die taal van Genesis; God se Groot-Begin boek. Die openingstoneel van hierdie boek vertel hoe die Here sy Kunstenaarsdoek oopgerol het en alles binne ses dae in die helderste kleure denkbaar geskep het. Met een woord het Hy die son aan die brand gepraat en in die hemel opgehang; die maan en die sterre ook. Wat ‘n begin! Ja, so groot was hierdie skeppingswerk dat dit dadelik vir ‘n tweede keer vertel moes word. In die tweede skeppingsverhaal (2:4b-25) sien jy hoe God die eerste mens aangestel het as opsigter van sy aardse tuin en hom omring het met diere, plante en, uiteindelik, ook met ‘n vrou. Hierna kies die eerste mensepaar teen God (3:2-6). Toe stroom sonde die wêreld in, met skrikwekkende gevolge (3:14-19). Gelukkig het God aan die mensdom ‘n tweede kans gegee… hierdie keer buite sy tuin (3:20-24).

Die groot tragedie (Genesis 4-11)

Buite die tuin lees ons van die tragiese verval van die mensdom. Moord en doodslag was van toe af aan die orde van die dag (4:1-16). En God? Wel, Hy was hartseer oor sy skepping wat so in sonde rondploeter (6:5-8). Al wat nou oorgebly het, was om die hele spul met ‘n groot watervloed weg te was. Gelukkig is Noag en sy familie uitgespaar (6:9-9:17). Maar selfs al hierdie water het op die ou end nie gehelp nie. Die oorblywende spul mense was eens so erg. Hulle poging om God te probeer onttroon toe hulle die toring van Babel daar in Genesis 11bou, het Hom daar en dan laat besluit om die mensdom se taal deurmekaar te roer.

God se oor-begin: Die Aartsvaders (Genesis 12-36)

Gelukkig het God nie sy rug op sy stukkende wêreld gekeer nie. Sy nuwe antwoord op die nood van die wêreld was een man: Abraham. Uit ‘n ver land, Ur, is hy geroep. Abraham moes God se grond terugwen, en sommer sy mense ook. So goed was God vir Abraham dat Hy met hom ‘n ooreenkoms of ‘n verbond gesluit het om hom te verseker hy sou ‘n reuse nageslag hê - met ‘n eie land en al. Isak was ‘n groot geskenk aan Abraham en Sara (25:19-28:6). Maar Isak se seun, Jakob, het hom later behoorlik grys hare gegee. Hierdie jongman het nie net sy broer, Esau, uit sy eersgeboortereg verkul nie (27:18-40), maar ook baie konflik met sy skoonfamilie gehad (28:10-36:43). Gelukkig het God Jakob se lewe by Jabbok verander (32:1-32). Na ‘n nag se gestoei met ‘n engel, het Jakob die Here ontmoet, waarna hy ‘n nuwe naam (‘Israel’) gekry het en ook met sy broer vrede gemaak het (33:1-20).

Josef, God se dromer (Genesis 37-50)

Die laaste deel van Genesis vertel hoe God se goedheid verder in sy stukkende wêreld uitgekring het deur Josef, die jongste van Jakob se seuns. Hierdie droom-dromer was ‘n voorbarige jong seun. Nadat sy broers hom uit jaloesie as ‘n slaaf verkoop het en hy in Egipte beland het, het Josef op die harde manier geleer wat die Here se wysheid is. Josef moes leer om nee te sê vir versoeking, maar het dit jarelange tronkstraf vir homself beteken (39:1-23). Na sy vrylating, toe hy die farao se droom reg uitgelê het, het Josef gevorder tot die tweede hoogste posisie in Egipte. Josef se wysheid het hom geleer om altyd reg op te tree. Hy het die Egiptenare van hongersnood gered, en ook sy eie familie. Gaan lees gerus net hoe hy sy broers vergeef vir dit wat hulle hom vroeër aangedoen het (42:1-45:28). Kyk ook net hoeveel deernis hy het vir sy pa, Jakob (46:1-50:26).

Genesis vertel dat God keer op keer ’n nuwe begin met die mensdom maak. En die heel beste nuus: vandag nog is God onderweg met elkeen wat voor Hom buig. Tot vandag toe maak God dit Genesis in ons lewens wanneer Christus al die donkerte uit ons lewens verdryf. So skryf Paulus in 2 Korintiërs 4:1-6.


bottom of page