Tutti’s Pasta
top of page

Tutti’s Pasta


Ek het al mense op my pad raakgeloop… of miskien moet ek liewer sê God het al mense op my pad geplaas. Een van daardie persone was Piero Arni en sy vrou. Hulle was restaurant eienaars in Pretoria-Oos.

Ek is nou 4de jaar teologiese student en die einde is in sig, maar die akademiese werk raak nou te veel om saans by Spur te werk. Dus moeilike werk- enige iemand wat al ge-‘waiter’ het sal jou sê, en dit is seker hoekom ek by elke ete 30% tip. My vrou raak partykeer vir my so kwaad, maar jy verstaan eers wat dit is as jy al mense se kos vir hulle aangedra het vir twee ure en hulle behandel jou soos ‘n vark. Ek bedank toe by Spur omdat ek nie meer kon nie en ontmoet toe ‘n Italianer genaamd Piero wat die destydse bekende Tutti’s Pasta bedryf saam met sy vrou. Hy stel my toe aan en ek werk net twee keer per week maar die inkomste is baie meer. Ons raak baie geheg aan mekaar en ek raak soos ‘n seun vir hulle. Hulle help my finansieel om van my klasgelde te betaal en koop ook vir my ‘n fiets. Hulle het nou nie meer die restaurant nie, maar tot vandag toe is ons vriende.

So is daar baie mense wat ek ontmoet het op my grondpad wat my bemoedig het om deur te druk. ‘n Blinde man wat my een aand R100 extra gegee het vir ‘n ‘tip’ net omdat ek volgens hom so hard werk en ook swot. ‘n Prokureur wat my meer betaal as wat hy moet vir my deeltydse admin werkies… hierdie mense sal ek nooit vergeet nie. ‘n Klasmaat wat by my kom sit en vir my help om Dogmatiek beter te verstaan en nog selfs vir my opsommings te gee.

Vir hulle dalk is dit klein genade geskenkies en bydraes, maar vir my het dit op daardie oomblik iets in my maag gesit en my krag gegee om deur te druk. Ons almal kry sulke ‘n mense op ons reis deur die lewe; dit glo ek is nie per ongeluk nie, maar deel van God se ingrype in sy kinders se lewens.

‘n Mens kry nie altyd die geleentheid om vir hulle dankie te sê nie, maar ek kan weer op my beurt vir ‘n ander student of iemand wat sukkel help. Ek kan weer op my beurt my huishulp meer betaal as ander mense of die ou op die hoek wat werk toe loop, kan ek ‘n geleentheid gee as dit koud is. So is ons daar vir mekaar en soos Jesus self gesê het, dit sal deur ons liefde wees dat mense sien ons is sy kinders (Joh. 13:35; Matt. 5:16)


bottom of page