God se tuinwandelinge
top of page

God se tuinwandelinge


Die mooiste tyd van die dag is vroeg oggend en laat middag. Dit is asof daar ‘n rustigheid is aan hierdie twee oomblikke van elke dag. Die oggendstond het goud in die mond, lui die spreekwoord. Alles is vars van die dou en dit is ‘n nuwe begin.

Skemer, aan die einde van elke dag, laat jou terugdink aan die dag se gebeure. Was hierdie dag ‘n sukses? Wat het ek met hierdie dag gedoen? Ek persoonlik, loop graag in die tuin en beloer die plante. Ons lees in Genesis dat God in die tuin van Eden geloop het tydens skemer. Adam en Eva het dit geweet. Hulle het Hom verwag tydens hierdie tyd.

God self vind vrede in die Sy skepping so aan die einde van ‘n dag. Hy bewonder die plante en diere en spandeer tyd saam met Adam en Eva.

Ons lewe is soms so gejaagd, dat ons vergeet van die mooiheid van die skepping, ‘n tuin of voëltjies of ‘n fonteintjie in ons tuin. Onderneem weer tuinwandelinge. Kyk na dit wat jy geplant het, bewonder sommer die blommetjies wat groei. Hierdie is sommer gebedstyd ook. Praat met die Here as jy so in die tuin loop of dalk jou hond neem vir ‘n stappie. Dit is spesiale tyd saam met God. Jy kan nie aan die slaap raak of onderbreek word nie. So kan jy jou dag met die Here bespreek en jou vreugdes en hartseer met hom deel. Gebruik hierdie geseënde tyd saam met God.


bottom of page