top of page
Writer's pictureAlet Gardner

Vir wie bou ek ‘n monument?


Dis nogal ‘n gewigtige vraag: Ek is besig om te bou, maar waaraan bou ek? ‘n Monument om myself en ander te herinner aan die Here of ‘n monument vir die afgod van my keuse (enigiets waarin ek vervulling en beskerming soek)?

As ek myself ‘n Christen noem, is ek saam met my opgestane Here Jesus op pad – of dit nou na ‘n interessante wêreldstad of teen die “korporatiewe leer op” is. Algaande kan ek met Hom gesels, na Hom luister – Hy interpreteer sy Woord vir my, leer my die beginsels waarop ek my lewe kan bou. Ek kan selfs ‘n “woestyn” van finansiële, huweliks- of gesondheidsprobleme saam met Hom binnestap en vind dat Hy dit ‘n “waterryke vallei” van oorwinning en vrede maak.

MAAR, dan gebeur dit dat ek saam met my medereisiger/s deur die “Jordaan” van die lewe stap en ‘n gedenkteken van God se liefde moet oprig, net om aan die stry te raak oor een of ander onbenulligheid. En eintlik wil God net dat ek met sy beginsels sal bou aan ‘n huwelik/gesin/gemeente/gemeenskap wat komende geslagte aan Hom sal herinner.

Of nog erger: ek erf iets maar kyk met naywerige oë na my mede-erfgename se erfporsie en raak aan die baklei daaroor. Hoeveel beter sal dit nie wees om met die geestelike boustene van liefde en vergifnis, en van waarheid en integriteit te bly bou aan iets wat vir die geslagte wat kom van onskatbare waarde sal wees nie!

Waarvoor gaan die komende geslagte my onthou? Vir die gedenkteken wat ek vir myself of vir my politieke party opgerig het – die besigheid wat ek opgebou het of die reeks hofsake waarmee ek ‘n punt wou maak? Of gaan hulle my onthou vir die feit dat my lewe ‘n tempel van die Heilige Gees was, ‘n plek waar ander Jesus kon leer ken, bemoedig en opgebou kon word?

As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou;

as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.

Psalm 127:1 (1953 Vertaling)


bottom of page