Treurlied vir Taegrin Morris (14 September 2009 – 19 Julie 2014)
top of page

Treurlied vir Taegrin Morris (14 September 2009 – 19 Julie 2014)


Elke jaar hierdie tyd rou my hart van vooraf oor Taegrin Morris, lees ek weer die klaaglied wat ek kort na sy dood op 17 Julie 2014 geskryf het. En nooit raak dit makliker nie.

Sy dood is die resultaat van alles wat met ons samelewing verkeerd is, van die bose wat tussen ons rondsluip en vir ʼn geleentheid wag om chaos, pyn en lyding te saai. Taegrin se engel-gesiggie herinner my aan die verdorwenheid van die mensdom – dít waarteen ons aanhoudend moet bid.

Ek deel my hartseer:

Taegrin Morris. O, Taegrin Morris.

Die delikate lyfie op die teer. Die koppie teen die randsteen. Die gille. Die geskree.

Ag, Here.

Die brullende leeu het Taegrin bekruip. Met lis die uitkoms beplan. Die bose saad geplant en bedruip met gal. Sy twee makkers op ’n missie gestuur na Reiger Park.

Ontsteltenis kom sit net hier skuins onder my borsbeen teen my maag en stoot soos sooibrand in my keel op. Rooiwarm gloede sprei van my nek af teen albei wange uit. My voorkop korrel met sweet en my hartklop versnel.

Here, wat moet ek maak met Taegrin Morris en die teerpad?

Die beelde in die donker nanag. Die gille wat eggo. Die ouers se pyn en verskriklike lyding. Die skuldgevoelens en verwyte. Die woede en haat. Die magteloosheid. En dan die skryende leemte van die verlies. Die gat in die hart.

Die gedagte aan Taegrin. Daar waar hy smekend aan die veiligheidsgordel hang. Stampend oor die growwe teer. Het my diep, diep in ’n baie ongemaklike plek geraak. Ek kan nie behoorlik bid nie. Ek kan net versug en verknies. My posisie is nie meer gesellig warm nie. Die koue het my bekruip en ek ril.

Here, wat moet ek bid?

Heilige Gees, staan my in my swakheid by. Pleit vir die mensdom met versugtinge wat nooit in woorde gesê kan word nie. Pleit vir my. Vir Taegrin. Ook vir Erin, Chantel en Elwin Morris. Vir ’n woedende gemeenskap steeds in rou. Pleit vir geregtigheid en genade. Pleit teen gruwel en bedorwenheid. Teen boosheid en die kruipende donker hier aan die Suidpunt van Afrika.

Bo alles, pleit asseblief dat Taegrin Morris nie ten ene male verniet gesterf het nie.

En die heilige God, wat my hart selfs in daardie koue plek deurgrond, sal weet wat u bedoeling is.

Here, troetel vir Taegrin. Daar waar hy in u heilige skoot nestel. Raak hom aan en verduidelik aan hom die situasie. Druk hom styf vas en oorspoel hom met genade en liefde. En sê tog vir hom dat ek elke jaar sy dood gedenk, al het ek hom nie geken nie.


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page