Die Gees wil intrek by jou
top of page

Die Gees wil intrek by jou


As die Gees die slag intrek by jou lewe dan begin groot dinge gebeur. Die Heilige Gees kom nie saggies of stilweg nie. Nee, as die Gees by jou kom bly, dan kom Hy aanboord met ‘n reuse skoonmaak aksie. Dan maak Hy behoorlik huis skoon. Die Gees deel immers nie sy aardse woonplekke met onwelkome besoekers of plakkers nie. Hy het alleenreg op elke aardse eiendom van Hom en Hy bewaak dit met ‘n heilige jaloesie.

Vat vir Dawid. Toe die Heilige Gees by hom kom intrek het, het Hy kragtig deur sy kneg begin werk. Almal kon dit sien en ervaar. Dawid se lewe het verander. Hy was Gees-deurweek en Gees-gedrewe. Daarom dat sy lewe so ‘n kragtige stempel op die Israeliete afgedruk het. Anders as die Gees-lose Saul, was die Gees-volle Dawid ‘n stem van hoop. Selfs sy lier se musiek was so kragtig dat dit die rustelose hart van Saul tot bedaring gebring het (1 Samuel 16:14-23). Van Saul gepraat - toe hy as koning van Israel gesalf is deur Samuel het die Gees van die Here ook in hom begin werk (1 Samuel 10:6, 10). Ongelukkig het Saul later sy eie pad begin loop en die Here se opdragte blatant verwerp. Toe het die Gees van God hom permanent verlaat. Wat ‘n tragedie! Toe was Saul regtig alleen- so alleen dat hy as ‘n tragiese figuur gesterf het. Gelukkig leer die Nuwe Testament ons dat die Heilige Gees nou vir altyd by gelowiges bly. Nie eens ons sondes kan Hom laat trek nie. Maar dit beteken nie ons kan leef soos wat ons wil nie. Inteendeel. Die Gees self sorg nou dat ons reg leef. Hy verander ons in lewende tempels van God. Hy maak ons lewens heilig.


bottom of page