The beauty of grace [resensie]
top of page

The beauty of grace [resensie]


Moderne vrouens se lewe is vol. Dikwels volg hulle ‘n beroep, is eggenote asook ma van kinders en is betrokke by organisasies. Hulle dagboeke is vol en hulle tyd is min. Dit is vir sulke besige vroue wat dié boek geskryf is, deur vrouens met besige skedules en min tyd. Oor wat hulle in hulle lewe oor God en sy pad met besige vrouens uitgevind het.

Jy kry hier die kort verhaaltjies van ‘n hele klomp vroue, deur hulleself geskryf. Oor verskeie onderwerpe, soos: wat is die doel van jou lewe hier op aarde? Waar pas jy in in die groter prentjie wat deur God geskilder word? Wat beteken dit om oorgegee aan die Here te leef? Wat beteken dit om Hom te vertrou? Watter hoop het ons? Waaruit word ons bemoedig om aan te hou en vorentoe te beur? Wat beteken dit om te aanbid? En regdeur is daar lewenslesse wat met jou gedeel word. In kort stukkies wat gemaklik en vining lees, en wat jy saam met jou gaan vat deur die dag. Omdat talle van die stukke so onvergeetlik is.

So is daar die verhaaltjie van Lisa Leonard wie se seun met ‘n gebrek gebore is, wat insluit dat hy aan sy linkerhand sekere vingers skort, dat hy buitengewoon klein is, dat hy stadiger ontwikkel en ‘n hartdefek het. Onlangs het die gesin gehoor dat David vir ‘n opehartoperasie moet gaan om die gat in die hart te probeer herstel. Sy vertel hoe die gedagte aan die operasie haar met vrees gevul het, alhoewel sy nie normal sukkel met vreesagtigheid nie. Haar bangwees het haar terug in die arms van haar hemelse Vader gedryf. Hier het sy uitgevind hoe ‘n mens die onbekende kan navigeer, deur te besef hoe buite beheer ‘n mens in werklikheid is in terme van wat in ons lewe gebeur. Maar terselfdertyd, hoe die Here in volle beheer is. Die wêreld is nie ‘n chaotiese plek wat deur die noodlot beheer word nie. Jou lewe is eerder die gevolg van ‘n bekwame en liefdevolle God se versorging van jou, en sy plan met jou lewe verloop volledig soos Hy wil. Want Hy het ons lief. Hieruit bestaan ons hoop.

Aan die einde van elke kort verhaaltjie of getuienis kom dan ook ‘n teksgedeelte voor wat die gedeelte goed opsom en illustreer.

‘n Kosbare boek vol ware verhale van vroue wat te midde van besigwees God se genade beleef het. Dit gaan vir elke vrou baie beteken.


bottom of page