Jy is in die hande van die ewige Topbestuur
top of page

Jy is in die hande van die ewige Topbestuur


Dit is die bestuurders van ‘n maatskappy se taak om toe te sien dat die regte visie deurgevoer word. Ook moet hulle sorg dat die maatskappy se doelwitte bereik word; dat nuwe werksmoontlikhede ontgin word en dat alles reg verloop binne die maatskappy. Sonder goeie bestuur is enige instelling gedoem tot groot moeilikheid. Gelukkig vertel die Bybel vir ons dat die heelal onder die beheer van ’n uitmuntende “Topbestuur” staan. Die drie-enige God rig ons wêreld op ‘n nuwe koers wat binnekort gaan uitloop op ‘n splinternuwe wêreld.

God stel Homself in Genesis 1:1 aan ons bekend as die Skepper van hemel en aarde. Hy is die Een wat alles gemaak het. Genesis 1:2 vertel ook vir ons dat sy Gees van ‘n ewigheid voor die skepping af reeds saam met Hom aktief is. In Johannes 1:1 en in Kolossense 1:15-20 hoor ons ‘n verdere dosis goeie nuus, naamlik dat Jesus ook van die begin af saam met die Vader is. Van nog altyd af, vanaf ‘n ewigheid voor Genesis 1 se begin, is die drie-enige God reeds daar. Ek moet erken my kop is veels te klein om dit te verstaan. My woorde is ook heeltemal te min om dit enigsins te probeer beskryf! Maar wat ‘n aardskuddende gedagte om te weet my lewe is in die hande van hierdie hemelse Topbestuur. Ek wil regtig vir niemand anders leef as net vir die lewende God nie. Hy wat tyd en ewigheid in sy handpalm vashou, is ook die Een wat hier by my is, tot in lengte van dae. Hier en nou, maar ook tot ’n ewigheid anderkant die dood-lyn, is ek in die hande van die God van ewige genade. Prys sy Naam!


bottom of page