Die brokstukke van ʼn geskeurde huwelik: Egskeiding
top of page

Die brokstukke van ʼn geskeurde huwelik: Egskeiding


Statistics South Africa het vroeër hierdie maand bevindinge met betrekking tot huwelike en egskeidings bekend gemaak.

In 2016 is 25 326 egskeidings toegestaan. Dit het met 0,3% gestyg vanaf 2015. Ek kan dus met redelike sekerheid skat dat ongeveer 25 500 burgerlike huwelike in 2018 sal sneuwel. SSA het ook bevind dat 44,4% van huwelike voor hul tiende verjaarsdag sterf en dat kinders jonger as 18 in bykans 14 000 egskeidings vasgevang is.

Ek het in 1998 op 21-jarige ouderdom in Pretoria-middestad by ʼn baie groot prokureursfirma ge-artikel en die base het dit goedgedink om die “egskeidings-beat” aan my toe te ken. Dit het behels dat ek elke Vrydagoggend egskeidingskliënte na die Hooggeregshof moes vergesel.

Die totale chaos wat in daardie howe geheers het, bly my steeds by: Letterlik honderde advokate, prokureurs, artikelklerke, verdwaasde litigante, familielede en gesinsadvokate hardloop rond om betyds te verskyn. Regsverteenwoordigers rammel vrae af, die eisers antwoord vinnig en bondig en die regtershamer kap elke vyf minute om soos blits deur die hofrol te hardloop – almal wil gaan naweek hou.

Egskeidings vind plaas op ʼn gewelddadige, bloederige slagveld waar iets lewend, ʼn huwelik, sneuwel. Dit raak nie net die partye nie, maar kring uit om die kinders, bejaarde ouers, families en vriendekringe van die partye te betrek by die pyn.

As mens mooi daaroor dink, raak dit die gemeenskap in sy geheel: Dink, om maar een voorbeeld te noem, aan die skole waar duidende gebroke kinderharte in die banke sit. As daar vanaf 2007 elke jaar 25 000 kinders deur egskeiding geraak is, is daar in 2018 in die omgewing van 300 000 leerders wie se matte op die een of ander stadium onder hulle uitgepluk is. Dit is uit die aard van die saak ʼn grof-geskatte, eintlik hipotetiese getal, maar laat ʼn mens steeds diep dink oor die impak.

Verstaan my mooi as ek sê dat ek nie in enige posisie is om te veroordeel nie. En ek wil ook nie. Ek kan ook nie aanvoer dat egskeiding in alle gevalle onafwendbaar is of dat dit nie soms die enigste uitweg is nie. Ek het immers met my eie oë gesien hoe huwelike mense verteer en vernietig. Maar ek het ook gesien dat selfs egskeiding as gevolg van ʼn vernietigende huwelik littekens laat.

In die Nuwe Testamentiese tyd was die huwelik en egskeiding alreeds vir millennia lank ʼn witwarm onderwerp. Johannes het gesterf as gevolg van die dinge wat hy in die openbaar daaroor kwytgeraak het en die Fariseërs het gehoop dat Jesus in dieselfde strik sou trap (Matteus 19). Hy kies egter om nie soseer oor egskeiding te praat nie, maar wel oor die huwelik. Hy sê: “... en hulle twee sal een wees. Hulle is dus nie meer twee nie, maar een.” 

Ek en Frans is reeds 18 jaar gelukkig getroud. Ek praat dus uit ondervinding as ek sê dat ons nie meer twee afsonderlike mense is nie, maar een entiteit. Ons vorm twee helftes van ʼn enkele lewe wat ons deel. Ek kan myself maklik die pyn en lyding en geweldige hartseer indink as ons intrinsieke eenheid om watter rede ook al sou skeur. Dink maar aan ʼn Siamese tweeling wat spiere, senuwees, are, organe en ledemate deel. In sekere gevalle selfs ʼn brein en ʼn kop. 

Dan verstaan ek Jesus Christus se woorde beter:   

ʼn Huwelik wat deur God voltrek is, is inherent en in sy diepste wese ʼn lewende, ingewikkelde eenheid. Alle huwelike word deur God voltrek; Hy het immers die huwelik ingestel. Dit is dus ʼn gegewe dat die skeuring met geweld, pyn en lyding gepaard sal gaan. Altyd.

Vandag huil ek oor huwelike wat sneuwel en terselfdertyd bid ek dat God myne sal sterk hou.    


bottom of page