God hou meer van my as ek van Hom
top of page

God hou meer van my as ek van Hom


Dis nogal ‘n skok om agter te kom dat ons as gelowiges nie so baie van God hou as wat Hy van ons hou nie. Ons hou eintlik meer van onsself. Ook hou ons nie so baie van ander mense van wie God ook hou nie. God het mense regtig lief. Hy is die God van liefde. So stel Hy Homself aan ons bekend. 1 Johannes 4:8 sê prontuit God is liefde. Sy liefde is nie selfsugtig nie. Dit is opofferend. Dit is mededeelsaam. Jesus se kruis wys presies vir ons hoe sy liefde lyk (1 Johannes 4:10). Die kruis is God se liefde in aksie. Daar ruil Jesus plekke met ons. Daar maak Hy ons stukkende lewens Syne. Daar deel Hy sy eie lewe met ons.

God se liefde kos ‘n duur prys. Dit kos ‘n lewe- Sy Kind S’n. Deur hierdie hoë prys wat Hy bereid is om te betaal, kom ‘n nuwe volk tot stand. Ons wie in Jesus glo is nou God se mense. Ons is sy familie vir wie Hy eindeloos lief is (1 Johannes 3:1). Nou is dit ons elkeen se roeping om nog meer lief te wees vir God. Minder van onsself en meer van Hom! 1 Johannes 2:3-5 sê dat as ons vir God lief is dan sal ons sy gebooie gehoorsaam. En sy grootste gebod? Wel, ons ken dit. 1 Johannes 3:23 sê ons moet in Jesus glo en God liefhê, asook vir almal vir wie Hy lief is. Van kop tot tone moet ons liefde-deurdrenk wees. Prakties beteken dit in 1 Johannes 3:17 se taal dat as ander aardse familielede van God honger is en swaarkry, dan is ons daar vir hulle. God se liefde moet ons hele lewe definieer. Liefde vir God en liefde vir mense moet ons daaglikse brandstof wees, opofferende liefde!


bottom of page