Waardering- ‘n Goddelike eienskap
top of page

Waardering- ‘n Goddelike eienskap


“When it comes to life the critical thing is whether you take things for granted or take them with gratitude.” –G.K. Chesterton

Waardering is so ‘n eenvoudige woord, maar omvat die lewensveranderende begrip van dankbaarheid teenoor iemand anders. “Baie dankie!” “’n Goeie stuk werk!” “Knap gedaan!” “Heerlike kos!” Wonderlike woorde waarmee ek ander kan opbou.

Ons mis so baie geleenthede in die alledaagse lewe om waardering te wys. Soms is dit omdat ons of te besig/ingedagte is of soms loop ons met vooropgestelde idees in ons koppe oor mense. “Oom Jan is altyd knorrig” of ”Marie is ‘n regte skinderbek”, “Die kassiere is bot en onbelangstellend”, “Hy het ‘n tattoo” of “Sy is weird – sy het ‘n ring in haar neus!”

Wanneer ek met my vooropgestelde idees mense weeg en te lig te bevind, mis ek die wonderlike skatte wat die Here in elkeen van ons geplaas het. Die petroljoggie of persoon wat my kruideniersware pak het dalk ‘n pragtige sin vir humor as ek met ander oë na hulle kyk, hulle anders hoor en ervaar. Ek moet net opnuut na mense kyk met die gesindheid van iemand wat weet dat daar iets kosbaars in elke mens opgesluit is.

Wanneer ek opreg in mense belangstel en hul komplimenteer gebeur daar iets positiefs – hulle voel belangrik en spesiaal. So kan ek met ‘n klein liefdesdaad mense weer anders oor hulself laat voel, anders oor hulself laat dink, hulle bemoedig en motiveer. Hiermee saai ek die mooi van die lewe wat dalk ‘n rippeleffek het. Ekself bly ook nie onaangeraak nie: wanneer ek dag vir dag ‘n opbouende effek op ander mense het, begin ek ook myself met ander oë sien. Dan verander dit ook my menswees en my lewe.

Die plek waar ek ware waardering leer, is in my persoonlike verhouding met Jesus. Jakobus 1:17 vertel ons dat "elke goeie gawe en elke volmaakte gawe" van Hom af kom. Sonder daardie bewustheid, sonder die waardering vir God en waarmee Hy besig is, gaan ek nie maklik teenoor ander waardering uitspreek nie. Slegs met God se hulp kan ek dit regkry om my eie ek, wat nie veel gepla is oor die welstand van ander nie, te kruisig en met liefdevolle respek en waardering na ander te kyk – en hulle met woorde van waardering op te bou.


bottom of page