Oorwinning deur gebed [resensie]
top of page

Oorwinning deur gebed [resensie]


Die uitgewer CUM / Christian Art doen Suid-Afrikaanse Christene die enorme guns deur die beste geestelike boeke wat internasionaal gepubliseer word plaaslik beskikbaar te stel en verder deur dit vir Afrikaanssprekende lesers te vertaal. En die boeke op hulle rakke is ook van ‘n geestelike gehalte wat dit veilig vir Christene maak om dit te lees.

In dié boek kry jy ‘n goeie demonstrasie daarvan. Die skrywer is ‘n ervare en bekende Amerikaner met goeie teologiese opleiding en baie ervaring in die bediening, wat vanuit eie ervaring oor gebed skryf. Die skrywer wys vir jou watter rol geestelike oorlogvoering in jou lewe speel, en jy kom agter dat die skrywer nie net oor gebed praat nie. Gebed is ‘n integrale deel van sy lewe en hy vertel verhale uit sy eie en ander se lewens, asook die Bybel wat demonstreer wat hy sê. Die boek wys jou hoe jy in ware eenheid met Christus kan leef, hoe jy met die Heilige Gees vervul kan word, hoe jy die volle wapenrusting kan aantrek waarna Paulus verwys, hoe jy kragtig kan bly bid selfs al voel dit jou of moedeloosheid jou oorval en hoe jy ook ander kan help om in hulle gebedslewe staande te bly te midde van aanslae en versoekings.

Die vier afdelings waaroor die boek handel, verduidelik wat die aanslag van die boek is: die eerste deel verduidelik waaruit die opperheerskappy van Christus bestaan, en hoe ek en jy in verbondenheid met Hom deel van die ontplooiing van sy plan is om sy koninkryk in ons wêreld te laat aanbreek. Die tweede deel handel oor die werk van die Heilige Gees, en sy krag. Die derde deel, die langste deel, verduidelik wat die volle gevegstoerusting is waarmee ons in gebed die vyand die stryd aansê. En die laaste deel handel oor gebed as wapen.

Dit is ‘n kragtige boek wat jou motiveer om te bid, deur jou met kennis toe te rus hoe jy dit effektief kan doen. Belê gerus daarin; jou geestelike lewe gaan daarby baat!


bottom of page