Waarom het God mense met verskillende velkleure gemaak?
top of page

Waarom het God mense met verskillende velkleure gemaak?


Die laaste ruk verkeer ek diep onder die neerdrukkende indruk van die ongekende vlaag rassehaat wat soos ʼn taai, vuil rookmis laag oor ons land hang en alle perspektief krom trek.

As jy wonder oor die legitimiteit van wat ek sê, kan jy gerus die Facebook-blaaie van News24 en Maroela Media, om maar net twee groot nuushuise te noem, besoek en die ras-gelaaide kommentare op die berigte wat dit potensieel uitlok, lees. Gaan maak ook sommer ʼn draai op Front Nasionaal se blad terwyl jy besig is.

Dink maar aan die hele Ashwin Willemse-debakel. Gaan lees die kommentare op sosiale media. Luister met ʼn oop oor na die gesprekke rondom braaivleisvure.

Ek wil verstik en my hare uit my kop trek en soos Job van ouds my klere skeur en my hare afskeer. Dan wil ek die pynlike swere wat ons land van kop tot tone bedek met ʼn potskerf krap tot al die kwaad uitgebloei het.

As God my vandag een vraag sou gun, sal ek nie kan help nie om te vra waarom Hy dit goedgedink het om verskillende velkleure aan mense toe te ken. Dit bring, volgens my eenvoudige, menslike opinie, meer probleme as vrede. En onmin “rattle” my gemaksone.

Hy sal my dan sekerlik, soos vir Job, uit ʼn stormwind op my plek sit:

“Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat sy geen insig het nie? Liezel, maak jou maar reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy my.”

Wat kan ek dan doen? Is dit nie beter om maar eerder onder die besembos te bly lê en treur nie?

Ek wens sit was ʼn opsie, maar helaas nie. Maar wat is die opsies dan?

As Christen kan ek my nie meer met die rassehaat vereenselwig nie. Ek wil nie meer daarna luister of dit lees nie. Ek is op. En tog word my wêreld op ʼn opdringerige manier elke dag daarmee swart gesmeer.

Kan ek ʼn rol speel in die neutralisering van die haat? Ek bid elke dat die Heilige Gees my sal leer hoe, want op hierdie stadium voel my pogings soos ʼn sandkorrel in die see.

Volgens statistieke noem tussen 70 en 80% van Suid-Afrikaners hulself Christene. Dit is amper 40 miljoen mense. Dit beteken, as ek nou ʼn ingeligte skatting moet maak, dat die rassisme dik onder Christene gesaai lê. Eintlik hoef ek nie eens daaroor te gis nie. Ek weet dit deur bloot sosiale media dop te hou.

Sê nou maar net 50% van hierdie Christene sal nou vir eens en altoos besluit om soos Kolossense 3-Christene op te tree, verby velkleur, kultuur en ras te kyk en Jesus in sy volle glorie as Christus in Suid-Afrika te erken. Dit is 20 miljoen stemme vir Christus.

Dan sal ons kan sê:

“Hier is dit nie van belang of iemand Afrikaner of Xhosa, Kleurling of Zoeloe is nie, swart of wit, andertalig, Afrikaan, Westers, huiswerker, staatsdiensamptenaar of CEO nie.

“In Suid-Afrika is Christus alles en in almal. Mense van verskillende rasse en kulture is geduldig met mekaar en vergewe mekaar. Liefde is die band wat ons tot volmaakte eenheid saambind. En die vrede wat Christus na hierdie aarde gebring het, gee in een en elk die deurslag.

“Ons bly hier aan die Suidpunt van Afrika waar God se belofte in ʼn multikulturele reënboog oor ons waak.”


bottom of page