Toe vergeet ek om reg te onthou
top of page

Toe vergeet ek om reg te onthou


“I have learned two very important things in my life. I don’t remember the first one, but the second one is to write everything down!” Eina! Toe ek dit lees weet ek dis ekke daardie! Onlangs onthou ek juis weer ’n belangrike datum verkeerd. Een van ons kosbare vriende se kinders se troue het verkeerd in my geheue beland. Op ’n dag toe ek na my program kyk, besef ek ons kan nie na hierdie troue toe gaan wat ek so ewe verkeerd onthou nie. Maande voor die tyd het ek reeds vir ’n boekbekendstelling van ’n ander kosbare vriend, asook vir ander aanbiedings ja gesê. Letterlik ’n week voor die troue kom ek tot my skok agter ek is Klaas Vakie. Ek was een week uit. My geheue het my in die steek gelaat. Het sulke dinge jou ook al oorgekom? Jy onthou verkeerd. Of jy vergeet ’n afspraak, ’n funksie, ’n kuier met iemand wat tevergeefs op jou sit en wag. Hoe dan gemaak? Wel, daar’s dan net een pad- die askies-ene! Dis nie net die kortste brug na God toe en terug nie, maar ook na mekaar toe.

Ons almal maak foute. Ons stel mense teleur. Ons praat voor ons dink. Ons dink verkeerd. Ons vergeet. Maar ons durf nooit uitkamp in ons eie foute nie. Ons maak dit reg. Dis wat die Heer van ons vra. Ons is brugbouers in Sy Naam, nie brugverbranders nie. Ons leer by ons Heer, Jesus Christus, wat eerste van sy kant af die brug na ons toe herbou het. Ook aanvaar elke keer opnuut verantwoordelikheid vir ons eie lewe. Ons leer om fyner te onderskei wat die wil van die Here is en ons raak meer sensitief vir mekaar. Ons sorg dat ons aktief aanwesig wees in ons eie lewe, soos wat die Here is! Ons leef nie outomaties en onnadenkend nie. Ons gebed moet elke dag wees dat die Here ons sal help om aandagtig te leef. Ons moet “mindfully aware” voor God en tussen mekaar leef. Dan leef ons mekaar reg raak. Dan eer ons die Here reg.


bottom of page